Koeler somer wink dalk dié keer
Die Krugersdorp-Wes openbare swembad in Gouldstraat mag dalk voor die einde van die jaar vir die publiek oopgestel wees.

Dit lyk tog of Krugersdorp-inwoners vanjaar hulle voete in die water hierdie komende somer sal kan sit.
Dit is nou mits opknappingswerk aan die KM Openbare swembad in Gouldstraat, Krugersdorp-Wes betyds klaar is.
Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het reeds in 2013 ‘n deel van R68 miljoen bewillig vir die opgradering en opknappingswerk vir sport- en ontspanningsgeriewe vir dié en ander swembaddens in Kagiso en Azaadville.
Lees aanvanklike artikel hier.
Mathys van Tonder, DA-raadslid vir hierdie wyk het tydens ‘n besoek aan die Krugersdorp-swembad gesê hy is tevrede met die vordering wat tot dusver gemaak word.
“Ons vra al lank vir hierdie infrastruktuur en sal baie bly wees om te sien wanneer die swembad weer sy deure vir die publiek gaan oopstel.”

Dié swembad is 58 jaar gelede deur Raadslede JP Jonker en H Pannall geopen en was ‘n plek waar baie inwoners van vandag ‘n goeie kinderherinneringe opgebou het.
Van Tonder is ook veral opgewonde om te sien dat die struktuur en gevoel van die ou jare behou is.
Die aantrekhokkies se deure en sitplekke is herstel en oorgeverf. Ander geriewe soos die badkamers is ook van voor af oorgedoen en stukkende handwasbakke en toiletgeriewe is met nuwes vervang.
Ultrasonic Express is besig om die hoofswembad sowel as die kleiner kinderswembad van voor af oor te doen.

Karien van Deventer, die Gemeenskapskakebeampte het gesê hulle het verlede September begin om ook die pompkamer, opsigterkamer, die beligting en plaveisel op te knap.
Van Tonder het gesê daar gaan ook ‘n heining om die swembad geplaas word om te verhoed dat mense mekaar instamp.
Die duikplank wat voorheen daar was gaan nie weer vervang word nie omdat die swembad se vorige diepte na 1,7 meter verander is.
“Ek is so opgewonde om te sien dat dinge besig is om te gebeur,” het hy gesê.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
