Geen water by aftree-oord?
Bejaardes sukkel blykbaar om lopende water te bekom by 'n plaaslike aftree-oord.

Die News het onlangs ’n klagte ontvang oor ’n tekort aan water by ’n plaaslike aftree-oord.
“Die mensies is al heelweek sonder water, en dit is nie die eerste keer nie,” vertel ’n bekommerde vriend van ’n Moria Sentrum-verpleegster.
“Die verpleegsters is gesê om stil te bly daaroor.”
Volgens die vriend, wat ter wille van die verpleegsters anoniem wil bly, moes daar met emmers water voorsiening gemaak word sodat die inwoners kon bad.
Moria Sentrum, wat al sedert 1974 langs Monument Dam bestaan, se bestuurderes, Annatjie Griesel het gesê die oord het geensins sonder water vir ’n week gesit nie.
“Warm water was egter ’n probleem,” het sy gesê.
Inwoners het water in hul ketels gekook, en warmwatertoestelle wat gebruik word vir koffie en tee, is ook gebruik vir wasdoeleindes.”
Phillip van Rensburg, die oord se instandhoudingsbestuurder, het verduidelik dat inwoners Maandag 22 Junie gekla het dat daar nie water was nie.
“Na die watertoevoer weer Maandagaand herstel is, het die watertenk gou leeggeraak as gevolg van die groot aanvraag daardie aand.”
Dinsdag was daar met 20 liter dromme water aangedra vanaf die aangrensende kerk en die bestuurderes se huis.
“Woensdag was daar weer water. Maar vir inwoners wat aan die ooste deel van al vier vloere bly, was daar net koue water beskikbaar,” het Phillip gesê.
Die volgende Maandagaand was daar weer warm water by die aftree-oord.
Annatjie verduidelik dat werkers by Moria die situasie tot die beste van hul vermoë hanteer het.
Verwante artikels:
• Moria resident believes ACDP can make a difference
• Baie dankie Mogale Verkeer en Moria Ouetehuis
