Pokkels se dood was ‘n ongeluk
Pokkels se ouers vertel van die nagmerrie toe hulle vierjarige kleuter na 'n fratsongeluk dood verklaar is.
“Ons liefling dogtertjie, Pokkeltjies, weggevat deur ‘n fratsongeluk.”
Vierjarige Juwanette van Staden, oftenwel Pokkels, is op 11 September dood verklaar by die Joburg General Hospitaal nadat ‘n staal hek op haar geval het.
Aanvanklike artikel hier: Toddler dies after freak accident
“Ek weet Blikkies [Burgershoop] is ‘n sirkus, ek wil net hê die sirkus moet nou end kry en my kind uitlos dat sy in vrede kan rus,” het Pokkels se ma, Belinda van Staden, gesê.
Belinda het aan die News verduidelik dat sy by die huis was daardie Vrydagmiddag toe Pokkels se pa in sy werksvoertuig oorkant die pad stilgehou het.
Albei hul dogtertjies het vinnig hek to gehardloop, “Wag pappa kom nou,” het Dawid van Staden aan sy twee dogtertjie gesê toe die oudste (6) die hek oopgemaak het.
Altwee dogtertjies het die hek oopgestoot toe die swaar hek eweskielik op Pokkels geval het.
Dawid het dadelik alles neergegooi en oor die pad gehardloop en die hek van haar klein lyfie afgegelig.
“Daar was so baie bloed. Daar het reeds bloed by haar oortjies en neusie uitgekom, dit was te laat,” het ‘n ontstelde Dawid gesê.
Hy verduidelik aan die News dat hulle dadelik met Pokkels na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal gejaag het met haar in sy arms.
By die hospitaal het Pokkels se ouma, Leensa Engelbreght by hulle aangesluit, “Op hierdie stadium het ek klaar afskeid geneem, maar het steeds aanhou bid. Ek moes sterk wees vir my dogter”.

Na sowat drie ure se wag by Yusuf Dadoo was Pokkels per ambulans met haar pa as toesig na Joburg General geneem weens haar kritieke toestand.
Die ambulans moes in Brixton ‘n stop maak om die suurstof pyp om te ruil en het glo gesukkel om die regte pad na die hospitaal te vind.
Omgeveer 9.13nm is Pokkels op aankoms by die hospitaal dood verklaar.
“Nee, nee ma, dis verby, dis verby,” lees ‘n sms van Dawid aan sy skoonma.
Belinda glo dat as daar genoeg suurstof beskikbaar was sou haar kind dit gemaak het tot by die hospitaal en daar behandeling kon kry.
“Die suurstof was te min, dis toe haar hartklop val,” het Belinda gesê.
Engelbrecht glo dat die personeel by Yusuf Dadoo Pokkel se ouers ‘n rat voor die oë draai aangesien hulle bly gesê het dat Pokkels kritiek, maar tog stabiel is maar toe later haar toestand as ‘breindood’ beskryf het.
Alhoewel die twee ouers vervreemd van mekaar is, staan hulle saam terwille van hulle ander kinders.
Estelle Opperman, onderwyser en hoof by Mug and Tree Kleuterskool, het Pokkels as ‘n baie spontane en liefdevolle kind wat vreeslik vir haar maatjies omgegee het, beskryf.
“Pokkels was ‘n baie unieke en spesiale kind. Daardie glinster in haar oë het dadelik diep in my hart geklim. Sy was my blou-oog meisie,” het Estelle gesê terwyl die familie in trane uitgebars het.
Belinda vertel dat Pokkels haar elke dag oppad skool laat stop het om vir Juffrou Estelle ‘n blommetjie te pluk.
“Dankie dat ek kon deel wees van kleine Pokkels se lewe,” het Estelle aan Pokkels se ouers gesê terwyl die trane by haar wange afrol.
Belinda vra dat die skinder stories oor hul finansiële situasie sal gaan lê en Pokkels in vrede laat rus.
Alhoewel die datum van die begrafnis nog nie vasgestel is nie, wil die ouers die gemeenskap gerus stel dat die reëlings so te sê afgehandel is.
“Pokkels sal in ‘n pienk kis ter ruste gelê word. Sy was my lewe gewees, sy is nogsteeds. Dit is seer, baie seer,” het Dawid afgesluit.
Verwante artikels:
• Hospital refuses to comment about death of mom and baby
• Shocking details about mother and baby’s death
