Local newsNews

Haar volgende titel is om ma te wees

Wanneer Talita nie hard besig is om fondse bymekaar te maak nie, is sy ’n familiemens.

Talita Janse van Vuuren het haar Mrs Charities SA 2014/2015 titel-serp met trots gedra.

Die plaaslike skoonheid is nie net ’n rolmodel van formaat nie, maar word nou ook beskou as die Kanker Vereniging van Suid-Afrika (Kansa) se geheime fondsinsamelingwapen.

Tot onlangs toe het Talita gehelp om meer as R1 miljoen vir die organisasie in te samel. Iets wat baie min mense vir Kansa al reggekry het.

“Talita is absoluut ’n rolmodel. Sy is altyd positief en het nooit vir enige uitdaging nee gesê nie. Die nuwe Mrs Charities SA het groot skoene om vol te staan,” het Munnik Marais, korporatiewe betrekkinge bestuurder van Kansa gesê.

Talita was as Mrs Charities SA gekies nadat sy deel van die top 25 finaliste van die Mevrou Suid-Afrika groep was. As deel van hul pligte moes elke finalis vir Kansa, as begunstigde, fondse insamel sowel as bewustheid rondom die organisasie skep.

Talita het ver bo die res uitgestaan en is nou ’n ambassadeur vir Kansa.

“My werk by en vir Kansa sal nooit ophou nie. Ek het ’n absolute passie om mense, veral vroue, in te lig oor die doel van Kansa en om ook kankerbewustheid na die gemeenskap te bring,” het die 31-jarige rooikop van Ruimsig gesê.

Die hoogtepunt van haar jaar was om by almal se geleenthede betrokke te wees. Sy beskryf die ondersteuning wat sy van haar familie, vriende en die gemeenskap ontvang het as merkwaardig.

MrsSA_Sat020_91652

Alhoewel sy ’n verdiende blaaskans saam met haar man gaan geniet, weet sy dat sy nou deel is van die Kansa-familie.

“Ek is nog steeds ’n spreekbuis vir hulle en gaan van nou af die nuwe titelhouers bystaan en hulle mentor. Om by Kansa betrokke te wees is nie werk nie, dis my lewensdoel.”

Wanneer Talita nie hard besig is om fondse bymekaar te maak nie, is sy ’n familiemens. Sy is al vier jaar getroud en werksaam by die familie se besigheid in Ruimsig.

“Ek gaan ’n bietjie ’n vrou wees vir my man en sien daarna uit om rustig saam met hom by die huis te wees … en natuurlik om ’n familie te begin.”

Talita wil graag vir die gemeenskap laat weet dat Kansa ’n baie betroubare naam in die samelewing is en die werk wat hulle doen van kardinale belang is.

“Kansa se bewusmaking is baanbrekerswerk. Gaan besoek gerus hul webtuiste vir tonne inligting. Kansa wil help en dis presies waarvoor hulle daar is.”

Besoek Kansa se webtuiste by www.cansa.org.za vir meer.

Verwante artikels:

• Koppie liefde ten bate van Kansa

• Suksesvolle Kansa fondsinsameling gehou

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button