Let op SA, hier kom ‘n nuwe stem
'n Plaasliek sangeres het onlangs haar eerste album vrygestel.
’n Plaaslike stem het onlangs die Suid-Afrikaanse musiekindustrie betree.
Izaan Reinecke het vir jare haar talente beoefen en haarself goed voorberei om haar stem en liedjies met die wêreld te deel.
Sy het pas die opname van haar selfgetitelde debuutalbum by Manley Studios, onder leiding van Sean Manley en Zanda Greeff, voltooi en dié album is reeds in November 2015 vrygestel.
Die album bevat 14 snitte, waarvan elf oorspronklik en drie leenliedjies is.
“Dit was ’n eer en voorreg om saam met Sean en Zanda te werk, te hoor hoe my liedjies verwesenlik word en dit uiteindelik die potensiaal bereik waarvoor ek gehoop het,” het Izaan gesê.
Sy het baie van die liedjies self geskryf en Zanda Traut het ook ’n bydrae gelewer met liedjies uit háár pen. Izaan se tweede enkelsnit, Bly Stil, beloof om gou ’n treffer te word.
“Uit ervaring weet ons as vroue dat mans nie van baie praat hou nie – veral nie as ’n man en vrou so nou en dan ’n bietjie woorde het nie. Ons dames het nog baie te sê, maar dan het die manne reeds genoeg gepraat en gehoor. Ek het Bly Stil geskryf toe ek een aand nog baie op die hart gehad het en my man besluit het hy, en sommer ek ook, moet vir eers stilbly. Sy woorde “nou moet jy stilbly” was genoeg om my onuitgeprate hart in note en lirieke om te sit,” het Izaan verduidelik oor die inspirasie vir dié liedije.
Hoewel Izaan die musiekbedryf met groot verwagtinge betree, is sy eerstens Dieter Reinecke se vrou en ma van drie. Dieter, Izaan en hul kinders Lizé, Ludich en Clarise, het tot onlangs in Krugersdorp gebly. Hulle het in Augustus 2014 die stad vir die platteland en boerdery verruil. Dieter praktiseer steeds as ’n oogkundige in Krugersdorp.
Izaan is lief vir die natuur en vind rustigheid by die see, berge, op 4×4-ritte en kampvakansies.
Sy lees graag en hou daarvan om te gaan fliek. Haar beste tye is saam met goeie vriende en familie voor ’n gesellige kaggel of om ’n kampvuur en om ’n glasie droë witwyn te geniet. Sy sê sy is op haar gelukkigste wanneer sy en haar gesin saam kan lag en lighartig kan wees.
“Ek is ook nie skaam om my passie vir God se wil prontuit te erken nie. Ek wil ook vroue bemoedig sodat hulle hul waarde as die Here se dogters kan besef,” het sy gesê.
Izaan het in 2014 ’n jarelange visie, Dogter van die Koning-projek geloods. Dié liefdadigheidsprojek het ’n geestelike dryf en vier vroue se uniekheid in Christus.
Verwante artiekels:
• [VIDEO] Konsertina-en-kitaar-album maak opslae
• Plaaslike sangeres tree op by ICC Arena
• Depressie lei haar terug na musiek
