[VIDEO] Sanger se sukses-resep
Wil jy graag 'n suksevolle sanger(es) wees? Volg hierdie sangsensasie en oud-Krugersdorper se wenke.
SA se nuutste sangsensasie, Brendan Peyper, gee aan dié wat graag ‘n sangloopbaan in die land wil najaag, advies.
Peyper het verlede naweek die dorp kom skud met sy treffer enkelsnitte wat opslae maak in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie en nou vertel hy hoe ander ook so kan maak.
Die 19-jarige sanger se eerste enkelsnit, Stop, wag, bly nog ’n bietjie, het reeds groot opslae gemaak in die musiekbedryf. Hy is ook vroeër vanjaar vir twee OFM-musiektoekennings benoem, onder andere vir Beste Manlike Kunstenaar en Liedjie van die Jaar. Hy het sy debuut-album verlede jaar in Oktober vrygestel.
“Dit was ’n groot besluit om my studies vir eers te los, maar dit was een wat ek goed deurgedink het,” sê hy.
Peyper het aan die News vertel wat hy glo is die wenresep na die sukses wat hy behaal het. Hy sê dit verg eerstens baie harde werk om te voel jy “het dit gemaak”, en sê hy het beslis nog nie daardie punt bereik nie, “maar ons werk baie hard om daar te kom”.
Watter advise gee jy vir nuwelinge wat ook graag in die musiekbedryf hul naam wil maak?
• Toets jou talent. Sing vir soveel verskillende mense as moontlik en hoor wat hulle dink. As die tiende persoon van jou hou, kan jy dink jy het iets om te bied.
• Neem ‘n paar goeie professionele foto’s en neem ‘n goeie demo-liedjie of twee op by ‘n goeie klankstudio en stel ‘n kort biografie op. Enige plek wat jy gaan bel om by op te tree gaan jou hiervoor vra.
• Besluit in watter genre jy belangstel en leer ook ‘n paar klassieke liedjies wat jy kan sing.
Kyk na die musiekvideo vir Stop, wag, bly nog ’n bietjie wat al byna 600 000 mense op YouTube bereik het:
• As jy ‘n instrument kan speel, oefen gereeld en maak seker jy kan jouself begelei met die liedjies wat jy graag sing. Dis een van die dinge wat my onderskei van ander sangers wat saam met ‘n klankbaan sing.
• Tree soveel op soos jy kan. Ek het al baie gratis opgetree, want niemand betaal vir ‘n onbekende sanger nie. Al tree jy vroegoggend by ‘n fees voor geen mense op nie, gaan die ervaring om op ‘n groot verhoog te sing en wat ‘n goeie klanksisteem het jou meer selfvertroue gee. Kerk bazaars, skool geleenthede, Saterdag markte en soorteglyke plekke kan vir jou die regte blootstelling gee. Ek is deur my platemaatskappy raakgesien toe ek in Bloemfontein by die Vryfees gratis opgetree het.
• Pas jou liggaam en jou stem mooi op. Ongelukkig kyk die mense en die bedryf na die uiterlike ook. As jy goed op die oog val en jy het talent, word dit net soveel makliker. Ek oefen vir omtrent ‘n uur en ‘n half by die gimnasium en oefen my stem en instrumente vir so twee ure elke dag.
Lees ook:
• Sangsensasie gaan dorp kom skud
