‘Ons soek wol en lappies’
Bejaardes van Môreglans Tehuis brei, hekel en maak unieke handgemaakte produkte om nodige fondse in te samel.
San-Mari Ferreira het onlangs by Môreglans Tehuis aangesluit en beoog om die mensies se lewens te verhelder met verskeie aktiwiteite en projekte.
‘n Deel van hierdie aktiwiteite sal deur die maatskaplike werker en biokinetikus, wat vrywillig elke week ‘n besoek by hulle gaan aflê, verrig word.
Maar tans op die agenda is die voorbereiding, beplanning en bemarking van hulle opkommende Wintermark.

Met die hulp van die tehuis se bestuurder, Fanie Meyer, en die flukse bejaardes wat brei, hekel, beplan hulle vir die laaste ruk byna dag en nag aan die mark.
Die mark sal nie net die unieke handgemaakte produkte van die mensies uitbeeld nie, maar daar gaan ook verskeie ander stalletjies wees wat smullekker happies so tradisionele kerrie-en-rys, koffie, pannekoek en vele meer verkoop.
Fondse wat ingesamel word tydens die mark sal gaan vir die opgradering van die geboue sowel as ander projekte van die tehuis.
“Om hierdie projek ‘n sukses te maak vra ons die gemeenskap vir enige oorskiet of ekstra lappies en wol donasies. Die inwoners het byna al hulle wol opgebrei in voorbereiding vir die mark en is reg vir nog vele meer,” het San-Mari gesê.
Die mark sal op die tehuis se terrein gehou word op 4 Junie vanaf 9vm.
Vir verdere inligting of om ‘n skenking te maak, kontak San-Mari by 011 665 1388.
Soortgelyke artikels:
•‘n Warmer winter vir Môreglans
•Dubbele Kersfees bederf vir Môreglans
•Môreglans doen dit sommer self
