Blikskud vir ‘n doel
Dié naweek gaan 'n groep van Kosmos Hope Project en Dagboek van 'n Ouer ook by die verkeersligte bedel.
Vanoggend vanaf 10vm het ‘n groep vrywilligers by die kruising van die R28 en Viljoenstraat blik geskud.
Vrywilligers van die Kosmos Hope Project en Dagboek van ‘n Ouer, onder leiding van Hannelie Niewenhuysen, saam bekend as Kosmos Angels, hou ‘n fondsinsameling vir dwelmverslaafdes.
“As verslaafdes by die verkeersligte kan bedel, wil ons ook daar geld insamel om hulle te help om van die strate af te kom,” het Elzana O’Kelly, stigter van die Kosmos Hope Project aan die News vertel.
Elzana, 28, is self ‘n herstellende dwelmverslaafde.
“Ek het ‘n paar maande terug in Krugersdorp gewoon en was verslaaf aan dwelms. Verlede jaar het ek die geleentheid gekry om na ‘n rehabilitasiekliniek te gaan om my herstelproses te begin,” het sy vertel.
Die blikskud-fondsinsameling is een van die eerste projekte wat die Kosmos Angels saam aanpak om verslaafdes te help. Daar gaan ook op 9 Julie ‘n damestee wees en ‘n pretdag later die jaar.
“Alle fondse wat ingesamel word, is ten bate van ‘n verslaafde wat hulp benodig maar wat nie die nodige fondse het om na ‘n rehabilitasiekliniek toe te gaan nie,” het sy gesê.
Kontak Hannelie by 072 569 0393 of epos kosmoshopeproject@gmail.com as jy graag by meer projekte betrokke wil raak.
Lees ook:
• Op die herstelpad, nou ploeg ons terug
• [VIDEO] ‘Ja, ek bedel vir dwelms’
• New drug town solution, could it work?
