Monnas-atlete presteer by skolekampioenskappe
Monnas-atlete het altesaam agt medaljes by die byeenkoms ingepalm.
Verskeie Hoërskool Monument-atlete het die Gauteng Skolespan by die SA Skole Kampioenskappe in Bloemfontein gedurende die skoolvakansie verteenwoordig. Hulle het nie teleurgestel nie.
Monnas-atlete het altesaam agt medaljes by die byeenkoms ingepalm, wat ‘n splinternuwe SA Skole-rekord insluit.
Kayle Blignaut wat die gouemedalje in gewigstoot vir seuns onder 17 verower het, het die rekordboeke herskryf toe hy die eerste skoolseun by die kampioenskappe geword het wat die ysterbal verby die 20m-merk kon laat grondvat. Met sy afstand van 20,42m het hy ook verseker dat hy as die beste atleet van die byeenkoms aangewys word.
Morne Brandon is maar 16 jaar oud, en het reeds vanjaar met verskeie onder 17-hardebaarde in die diskus afgereken. Hy het die gouemedalje in die item huis toe geneem nadat hy met ‘n reuse gooi van 57,36m geseëvier het. Hierdie afstand maak hom die gunsteling om met ‘n medalje by die 2017 Wêreld Jeug Kampioenskappe weg te stap.
Liza Kellerman het haar oorheersing in die 800m beklemtoon toe sy ook goud gewen het met ‘n spog tyd van twee minute en 7,36 sekondes. Daarna het sy haar veelsydigheid gewys deur ook met die silwermedalje in die 400m weg te stap.
Xander van der Westhuizen het ‘n perfekte seisoen afgesluit met die bronsmedalje in die diskus vir seuns onder 15.
Reuben Barnard (onder 15) het op sy beurt sy span gehelp om die silwermedalje in die 4x100m aflos sowel as in die gemengde aflos te wen.
Matome Shabangu (onder 16) het die silwermedalje in die hoogspring vir seuns onder 17 gewen.
Nog Monnas nuus:
Talle medaljes vir Monnas atlete
Monnas se bergfietsklublede presteer
