Met die koel weer wat inwoners na hul warm komberse en wolklere laat gryp, bied die Krugersdorp Stapklub twee opwindende roetes aan om die koue op ‘n drafstap af te skrik.
Op 14 Mei gaan die klub die Hennops-roete aanpak.
Hierdie is ‘n baie gewilde roete, redelik lank, sowat 12 kilometer, met baie uitdagings vir die avonturier. Daar word met ‘n kabelkarretjie oor die rivier gery, dan word daar met ‘n leer afgeklim na ‘n grot wat skuiling bied teen wind en weer. Daar word oor koppe en klowe gestap, en wild kan ook gesien word. Goeie skoene en genoeg water (en energiestafies) is ‘n moet op hierdie stap. ‘n Bedrag van R45 word vir volwassenes gehef. Die omgewing is pragtig en die roete was nog altyd goed versorg. Dit is ‘n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié van ons wat net eenvoudig ‘n goeie wegbreek en ‘n hele oggend in die rustige en pragtige natuur wil geniet.
Die volgende roete, Kranskloof, word vir 11 Junie beplan.
Die roete is naby Buffelspoort-vakansieoord, en klimaatsgewys ook omtrent dieselfde. Hierdie is sekerlik een van dié mooiste roetes wat die klub ken.
Aanvanklik lyk dit maar vaal en skynbaar baie vervelig, veral as mens op die eerste gedeelte na die kruin van die koppie toe stap. Maar dan draai die stappers links en is skielik in die kloof. Wat ‘n aangename verrassing. Skielik is jy in die allermooiste omgewing denkbaar – kranse, water, rotse, noem maar op; alles is daar.
Hier geniet stappers elke sekonde en elke tree wat hulle gee. Aan weerskante word jy beskerm deur loodregte kranse wat bo jou uittroon, en daar is selfs ‘n grot of twee. Al is dit rotsagtig, is daar baie plek om gemaklik te kan stap. Somtyds moet jy ook maar beur en klouter teen die hoë rotse uit, maar dit bied ‘n uitdaging aan elke volbloedstapper wat die natuur in al sy vorms liefhet, maar as jy daar uitstap op pad terug, sê vir jouself “ek kom terug”.
Vir meer besonderhede oor die klub, kontak vir Lu Ludick by 083 235 1958 of Renaldo Prinsloo by 082 879 8795 of Phillip Olivier by 083 788 4555.
Lees meer:
• Sluit aan by die stapklub die maand
