Optredes deur kore van Laerskool Kenmare, Laerskool Randfontein, Laerskool Muldersdrif en Curro Krugersdorp is onlangs op die kykNET reeks, Sing in Harmonie te sien.
Met bykans 90 deelnemende skoolkore landwyd en R178 000 in pryse op die spel, is dit sekerlik die grootste kore gebeurtenis in Suid-Afrika.
Laerskool Muldersdrif het met die louere van Sondagmiddag, 3 Julie se episode, wat om 5nm uitgesaai is, weggestap. Dié koor sal later vanjaar te sien wees in die finale rondte, wat op 24 September by Silverstar se The Globe plaasvind. ‘n Gehoor van bykans 3 000 toeskouers word verwag.

Gaskunstenaars soos Karlien van Jaarsveld, Joe Foster en baie ander sal die verhoog met hulle deel.
“Vir ons was die ondervinding ongelooflik gewees, die kinders het dit so geniet, dit was ‘n wonderlike geleentheid om op televisie te verskyn,” het Mareli Roodt, dirigent van die koor gesê.
Die reeks se uitvoerende vervaardiger en aanbieder, Anthonie Bougas (ook aan die stuur van reekse soos Uitblinkers, Kleuterzone en Solis vir Christus), is verstom oor die talent wat vanjaar op hierdie verhoog na vore gekom het.
“Sing in Harmonie is die eerste kompetisie wat vir laerskoolkore regoor Suid-Afrika die kans bied om op nasionale TV hulle merk te maak,” het Anthonie gesê.
Die reeks vier ook vanjaar sy derde bestaansjaar. Ná die reuse sukses van die tweede reeks in 2015, is Anthonie en sy span oorval met navrae oor nuwe inskrywings.
Inskrywings is tans oop vir 2017, en kore word aangeraai om so gou moontlik in te skryf, aangesien daar ‘n beperking op die getal inskrywings is.
Lees verder:
