Emosionele afskeid vir Monnas-matrieks
Soos die aand gevorder het, was dit vir sommige leerlinge amper onmoontlik om te sing aangesien almal 'n knop in die keel gehad het.
Dit was ‘n emosionele aand vir Hoërskool Monument se koorlede aangesien hulle die matrieks – met wie hulle lank saamgesing het – finaal moes groet.
Die koor het tydens ‘n spesiale galadinee by Usambara saamgekom waar die matrieks behoorlik geëer is. Na ‘n smaaklike voorgereg het die koorlede hulself op die bankies rangskik en losgetrek met variasies van bekende Afrikaanse liedjies. Die saal was vol ouers, familielede en maats wat om die beurt hande geklap en gejuig het.

Duncan Fourie, Monnas se koorleier, het die matriekleerlinge na die optrede een vir een vorentoe geroep. Duncan het iets spesiaal van die spesifieke leerling vertel en hom of haar dan die geleentheid gegee om ook te praat. Daarna is die betrokke leerling se ouers vorentoe geroep en die koor het ‘n liedjie spesiaal vir hulle gesing.
Vir sommige leerlinge was dit amper onmoontlik om te sing aangesien almal ‘n knop in die keel gehad het. Party leerlinge het kliphard begin snik – half bly en half ontsteld dat hulle nou finaal hul maats moes groet.
Die onderwysers het ook ‘n traantjie of twee gepink met die wete dat die leerlinge hulle vlerke nou gaan sprei en dalk nooit na Monnas se gange sal terugkeer nie.
Maar daar het tog ‘n opgewonde atmosfeer geheers aangesien die geleentheid ook gebruik is om die koor se CD vry te stel. Dit is die tweede CD wat die koor gemaak het. Die CD, genaamd Art of Music, is nou te koop en kan by die koorbegeleidster, Elmarie de Beer bestel word. Skakel 084 559 0130 om die CD te bestel.
Lees Ook:
Monnas seëvier op kultuur gebied
