Bejaarde egpaartjie erg aangerand tydens inbraak
Die verdagtes het selfone en geld gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.
‘n Bejaarde egpaar is gisteraand, 26 Oktober om ongeveer 9nm na bewering erg aangerand op ‘n plot in Protearif.
Die egpaar, onderskeidelik 76 en 73 jaar oud, vertel hulle was in hul woonstel toe vier indringers by die deur ingestorm en hulle oorval het. Die woonstel is op hul dogter se erf.
Die indringers het na bewering die egpaar se hande en voete vasgemaak en toe die huis begin omkeer. Hulle het toe ook die bejaardes aangerand en hulle ernstig beseer.
Die indringers is toe na die hoofhuis waar die bejaardes se dogter en haar kind ook aangeval en vasgemaak is. Hulle het glo selfone en geld gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.
Die verdagtes het glo die dogter se voertuig probeer steel, maar sonder sukses.
Die egpaar het hulself losgemaak en die Krugersdorp Polisie geskakel.
Hulle is na ‘n hospitaal geneem vir verdere mediese sorg. Hul dogter en kleinkind het nie beserings opgedoen nie.
Lees meer hier:
Elderly woman tied up in armed robbery
