Emosionele dag vir Nories se 2016-matrieks
Hoërskool Noordheuwel se 2016-matrikulante het weereens vir 'n 100 persent slaagsyfer en 'n totaal van 467 onderskeidings gesorg.
Met bekommerde gesigsuitdrukkings het die matriekklas van 2016 op 5 Januarie by Hoërskool Noordheuwel se hoofhek ingestap.
Die volgende paar minute sou hul toekoms bepaal aangesien dit die finale stap tot toelating tot ‘n universiteit sal wees.
Skielik, uit die bloute het ‘n meisie uit die saal gestap, in trane uitgebars en haar vriende omhels.

Haar vriend het daarna al juigend by die saaldeur uitgestorm met sy hande in die lug. Dit is duidelik dat hy die uitslae gekry het wat hy wou hê.
Senuagtige ouers het oral gestaan en wag dat hul bloedjies die belangrike A4-grootte dokument vir hulle wys.
Heather Robinson en haar dogter Valerie was meer as gelukkig met haar uitslae en is albei met 180 grade glimlagte daar weg.
“My punte is baie beter as wat ek verwag het,” het Valerie gesê. “Nou kan ek gaan swot wat ek nog altyd wou.”
Lara Strydom, een van Noordheuwel se top presteerders het agt onderskeidings gekry.

“Na die hermerk sal ek moontlik 10 onderskeidings hê, aangesien ek in twee vakke ‘n onderskeiding met net een persent misgeloop het,” het Lara gesê.
Die skool spog weereens ‘n 100 persent slaagsyfer en ‘n totaal van 467 onderskeidings. Tagtig persent van die 2016-matriekleerlinge het universiteitsvrystelling geskry.
Lees ook
Dont let your matric results wreck your university plans
