Graad 1: want hulle is eerste beste
Honderde Graad 1'tjies het vandag hulle skoolloopbaan in Krugersdorp begin.
Krugersdorp het vanoggend, 10 Januarie, soos ‘n byekorf geklink toe honderde Graad 1’tjies in volle skooldrag hul eerste dag van skool gehad het.
Met ‘n groot tas op die rug het hulle in rye na hulle eerste ‘grootskool’-klas toe gestap.

Tumelo Peterson, ‘n nuwe Graad 1-leerder van Lewisham Primary School het vir sy ma belowe dat hy nie op sy eerste dag sal huil nie. “Hy’t my belowe hy sal nie by die hek huil nie want hy is nou ‘n groot seun,” het Felicia, Tumelo se ma gesê.
Sivuyile Bulu het sy seun Hlumelo op sy skouers na die skoolhek toe gedra.
“Ons is erg op ons senuwees maar ons probeer hard om dit nie te wys nie want ons moet sterk wees vir hom,” het Sivuyile gesê.
Papi Morolong is ‘n piepklein Graad 1-seuntjie wat nie kon wag om by die skoolhek in te stap nie.
“Vandat hy sy skooluniform gekry het, wou hy elke dag weet wanneer hy skool toe kan gaan,” het Getrude, sy ma gesê.
By Laerskool Krugersdorp-Noord was die Graad 1’s reeds in hul klasse en het met groot oë na hul nuwe onderwyser gestaar.
In juffrou Louise se klas was die Graad 1’s klaar gemaklik met hul nuwe omgewing. Die kinders het die News met ope arms verwelkom en kon nie wag om met hul vaardighede te spog nie.
“Ek kan my hele naam skryf,” het Danae Erasmus, ‘n rooikop Graad 1-dogtertjie gesê.
Sy het dit bewys deur voor die hele klas haar naam op die witbord te skryf, en haar nuwe maats het vir haar hande geklap.

In Laerskool Kenmare se Graad 1-groep is sommer drie tweelinge. Niko en André Muller-Botha is een van die tweelinge. Vir hulle was die eerste dag van skool ‘n groot avontuur. Die News het hulle gevra hoekom hulle twee vanne het, waarop die een slim geantwoord het, “Ons het twee vanne want ons is ‘n tweeling”.
Krugersdorp verwelkom elke Graad 1’tjie en hoop hul hele jaar is ‘n avontuur.

Daar is meer prag-fotos beskikbaar in ons fotogallery hier.
Lees ook
Graad een paddabeen: Kennies-nuwelinge skuif agter skoolbanke in
Alma Mater se Graad 1-syfer bly groei
