Local newsNewsSchools

Matrieks val deur die krake van SA se onderwysfondasie

Solidariteit Helpende Hand se verslag wys onderwys beleef 'n krisis.

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum- (SOS-) verslag oor die 2016 Senior Sertifikaat-eksamen toon baie duidelik dat alles nie wel is met die vlak van onderwys in die land nie. Daarenteen presteer Afrikaanse skole steeds baie goed, ten spyte van aanslae.

Volgens die verslag het 13 persent van matrieks sedert die begin van 2016 tot en met die matriekeksamen aan die einde van die jaar weggeraak en nie die eindeksamen geskryf nie. Dit is nadat die matrieks aan die begin van die jaar geregistreer het om die eksamen te skryf. Daarby het 13 persent die eksamen as deeltydse studente afgelê. Slegs 74 persent van die matrieks het dus voltydse onderrig ontvang.

“Ons kinders is besig om deur die krake te glip,” het Hugo Vermeulen, SOS-hoof gesê. “Nie die muur se krake nie, die fondasies se krake. Hulle maak nie skool klaar nie en gooi hulle toekoms weg. Geen onderwysdepartement kan tevrede wees met ‘n sisteem waarin ‘n kwart van ons kinders hul matriek druip nie.”

Die SOS het ‘n volledige ontleding van die 2016-uitslae gedoen en het onder andere ‘n Top 20-lys van skole met die meeste onderskeidings in Wiskunde, Afrikaans Huistaal, Fisiese Wetenskap en Rekeningkunde opgestel. Hierdie vakke is nodig vir skaars studierigtings wat in die toekoms baie gesog gaan wees.

Wiskunde is die grootste bron van kommer aangesien nie minder nie as 66,5 persent van matrieks nie 40 persent in die vak kon behaal nie. Die SOS voel sterk dat vaardighede in Wiskunde van kardinale belang is.

“Wiskunde leer kinders om probleme op te los,” het Vermeulen gesê. “Dit is kritiek vir die toekoms van ons land.”

Die persentasie kandidate wat Wiskunde neem, het sedert 2015 met 2,7 persent toegeneem. Dit toon ‘n redelike konstantheid sedert 2012. Die nasionale visie om meer Wiskunde-matrikulante te lewer, is persentasiegewys nie juis suksesvol nie.

In teenstelling met die nasionale slaagsyfer van 72,5 persent is die slaagsyfer vir Afrikaans Huistaal-skole 89,9 persent. Volgens Vermeulen bewys hierdie statistieke dat Afrikaanse skole uitstekend presteer en steeds vir Afrikaanse leerders ’n opvoedkundige tuiste skep. In hierdie skole word die suksesvolle afhandeling van ’n skoolloopbaan amper gewaarborg.

Afrikaans Huistaal-skole behaal 20,9 persent van die toelatings tot B-graadstudies, terwyl hulle net 10,6 persent van alle hoërskole in Suid-Afrika uitmaak.

“Wanneer ons kyk na presteerskole se aantal onderskeidings in Wiskunde, Rekeningkunde en Fisiese Wetenskap, word dit duidelik dat vyf van die top 7-skole Afrikaans Huistaal-skole is,” het hy verduidelik. Hierdie skole is Hoërskool Menlopark, Paul Roos Gimnasium, Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoër Meisieskool Bloemhof en Afrikaanse Hoër Seunskool.

Lees meer:

Arm studente moet opbou, nie afbreek nie

Beursfonds vir wiskunde-onderwysers

Solidariteit vra: gee jou hand …

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button