Gemeenskap snoer kragte saam om buurt te beveilig
Dan Pienaarville is volgens inwoners die afgelope tyd 'n onveilige area.
Lede van die gemeenskap in samewerking met die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en plaaslike raadslede het die afgelope naweek kragte saamgesnoer.
Dan Pienaarville is volgens inwoners die afgelope tyd ‘n onveilige area. Misdaad vind gereeld plaas en inwoners word daagliks beroof. Die plaaslike GPF en gemeenskap het daarom besluit om die DA-raadslid van Wyk 17, Aletta van Loggerenberg, in te lig oor die probleem.
“Ons het besluit om die probleem saam op te los,” het Van Loggerenber gesê.
Volgens die GPF-lede het hulle die belangrikste aspekte uitgelig en besluit om dit saam aan te pak. Die inwoners het gevoel dat die gras in die veld in Gordon-Greystraat te lank is en dat die bome gesnoei moet word om sigbaarheid te verbeter.
Die persone wat gehelp het kon egter nie die bome korter sny nie, want dit dien as belangrike klankdempers in die area.
“Die dag was ‘n groot sukses. Om en by 40 vrywilligers was betrokke by die inisiatief. Lede van die gemeenskap het vir ons koeldrank gebring en die GPF-lede het gesorg vir boereworsrolle,” het GPF-lid Rosmary Brandt gesê.

Volgens Van Loggerenberg is die probleem rondom kontrakteurs hul eerste prioriteit en nuwe kontrakteurs sal binnekort aangestel word. Sy bedank graag die gemeenskap, lede van die GPF en almal wat betrokke was by die dag vir hul harde werk.
“Ons is ‘n lekker groepie wat saamwerk en saam sal ons die wyk verbeter,” het Van Loggerenberg gesê.
Die plaaslike GPF voel egter dat die munisipaliteit die gras moet sny en dat hulle sake in eie hande sal moet neem indien die munisipaliteit nie binnekort die diens lewer nie.
Lees meer hier
Sektor 3 GPF bou voort op suksesse
Sektor 7 stel beheerkamer bekend
Sektor 9 GPF wil misdaad bestry
‘n Warm verskil aan haweloses gemaak
