[OPVOLG] Hawelose paartjie se ware kleure?
'n Onderhoud met die News is met kru taal van die hand gewys.
Vir sommiges is dit lekker om werkloos te wees, want dan kan hulle by ander mense bly en van al hulle vrygewigheid misbruik maak.
‘n Week gelede was Laurence en Elmien de Jong werkloos met ‘n stukkende motor waarin hulle by ‘n vulstasie gebly het. Hulle het boonop drie honde om voor te sorg.
Hul roerende verhaal het mense se harte aangeraak en die gemeenskap het in oorvloed verskeie items aan hulle geskenk.
‘n Barmhartige, bekend as Sarah, het die gesin gehelp en hul huis vir die twee oopgestel. Die plan was dat Laurence en Elmien vir ‘n paar nagte in die huis sou slaap terwyl Sarah vir hulle ‘n buitekamer regmaak. Die buitekamer is intussen netjies gemaak en hulle kon intrek.

Vandag sit Sarah egter met ‘n groot probleem. Sy het vertel dat Laurence en Elmien té gemaklik geraak het en weier volstrek om uit die huis te trek. Die gemeenskap het ook verskeie donasies gegee, onder andere beddens en klere. Die twee het dit egter van die hand gewys en het onder andere gesê dat hulle nie ander mense se klere gaan aantrek nie en dat hulle ook nie op ander mense se beddens wil slaap nie.
Die paartjie se vervreemde dogter het intussen met hulle kontak gemaak en wil ook voordeel trek uit die donasies.
Sarah sit self in ‘n finansiële krisis. Sy sorg tans vir 10 mense en haar seun het ook onlangs sy werk verloor. Na bewering het Laurence boonop een van Sarah se honde met ‘n tuinhark geslaan.
‘n Persoon wat anoniem wil bly het aan die News vertel dat Laurence drank gekoop het met geld wat mense geskenk het.
Die News het vir Laurence en Elmien genader om die situasie te bespreek, maar Laurence het die News blameer dat mense hul hulp onttrek het. Hy het kru taal teenoor joernalis Nadine Maré gebruik om ‘n onderhoud van die hand te wys.
Lees meer:
