Plaaslike sakeman en Samaritaan skielik oorlede
Hy wou nie vereer word vir sy goeie dade nie, maar sal altyd onthou word vir sy goedhartigheid.
‘n Alombekende wat altyd ‘n grappie of twee gehad het om te vertel is onverwags oorlede. Die gemeenskap wat hy gedien het, is in rou gedompel.

Charles Slater, die eienaar van die Total-vulstasie in Robert Broomrylaan is Dinsdag, 7 Februarie oorlede. Charles is Vrydag (3 Februarie) hospitaal toe vir ‘n skouervervanging en is kort daarna as gevolg van ‘n bloedklont deur sy long oorlede.
Sy heengaan is ‘n groot verlies vir die gemeenskap, sy gereelde klante, vriende en familie.
Charles was veral bekend vir sy betrokkenheid by motorwedrenne in Tarlton, sy skenkings aan minderbevoorregtes, skole en verskeie sportklubs. Hy was betrokke by die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum van Sektor 7 en was ook daarvoor bekend dat hy sy medemens gehelp het. Hy het byvoorbeeld elke oggend en aand een van sy petroljoggies gestuur om ‘n bejaarde paartjie te help om hul gestremde seun in en uit die bed te help. Hy wou nie vereer word vir sy goeie dade nie, maar sal altyd onthou word vir sy goedhartigheid.
Die vulstasie het sedert 1995 aan Charles behoort en sy klante sal hom altyd onthou as ‘n man met ‘n goeie hart en ‘n goeie humorsin.
Sy familie bedank graag sy klante, verskaffers en almal wat ‘n bydrae tot sy lewe gemaak het.
Sy gedenkdiens sal op 14 Februarie by die AGS Kerk, Libertasstraat, Noordheuwel, om 11vm gehou word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Randfontein Herald, Roodepoort Record, Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
