Kleinkinders se getuigskrif vir hul oupa
Sy goue reël vir goeie gesondheid is om dinge te vat soos dit kom.
Op 88-jarige ouderdom het Jimmy Mollentze steeds ‘n gesonde humorsin.
Hy is die gom wat sy hele familie aanmekaar hou. Hy is meer as net ‘n oupa, pa en eggenoot vir sy familie, hy is ook ‘n beste vriend vir almal.
Jimmy is in Johannesburg gebore, maar woon vir so lank as wat hy kan onthou in Krugersdorp. Hy was sy lewe lank ‘n onderwyser by verskeie skole en het eers op 70 finaal afgetree. Hy spog met twee dogters en vyf kleinkinders wat hom behoorlik op sy tone hou. Hy het tot onlangs toe nog sy kleinkinders met sy motor geneem waar hulle wou wees en is altyd gewillig om sy dienste aan te bied waar nodig.
“My oupa het my alles geleer wat ek vandag in die lewe weet,” het sy kleinkind Emilio Sartori gesê.
Jimmy het aan die News vertel dat hy steeds baie gesond is en dat dit alles te danke is aan sy goeie gene en sy kleinkinders. Jimmy en sy vrou sal ook vanjaar 63 jaar lank getroud wees en hulle is steeds baie lief vir mekaar.
“Die goue reël vir goeie gesondheid is om dinge te vat soos dit kom,” het Jimmy gesê.
Sy twee kleinkinders, Emilio en Tiano, kon nie uitgepraat raak oor al hul oupa se goeie eienskappe nie. Hulle het onder andere gesê dat sy geduld, humorsin en sy liefde vir sy familie van sy beste eienskappe is.
Die News en Jimmy se kleinkinders wens hom ‘n wonderlike lewensjaar toe.
Lees verder:
Oupa en ouma se groot 1950’s-bederf
Kinderpartytjie vir Oupa Hennie
