Elke dag is Valentynsdag vir die Mosterts
Hulle beplan om mekaar op Valentynsdag baie te bederf.
‘n Paartjie wat al sedert skooldae verlief is, is na 55 jaar steeds gelukkig getroud.
News-joernalis Nadine Maré is oorval met liefde en verwelkoming deur die welbekende paartjie in die gemeenskap wat mense se harte aanraak met hulle liefde vir mekaar en vir ander.
Marian en Louis Mostert se liefde het in 1954 begin blom. Nadat Louis haar die eerste keer na ‘n kerkbyeenkoms genooi het, was die koeël deur die kerk. Hulle het by mekaar gekuier en mekaar se geselskap geniet, en het besluit om op 1 April 1961 te trou.
“Almal het gedink dit was ‘n lekker April fools-grappie,” het Louis gesê.
Louis het ‘n lekker humorsin en hou van gesels. Marian het ook baie stories om te vertel en geniet dit om hulle liefdesverhaal te deel.
Louis is amper 80 en Marian 78, en hulle spog met vier kinders en drie agterkleinkinders. Louis het die gemeente in Piet Retief vir verskeie jare bedien en Marian was ‘n huisvrou wat elke oomblik saam met haar kinders geniet het.
Hulle is albei nog gesond en geniet dit om sosiale byeenkomste by te woon. Hulle werk graag saam in hul tuin en in die parkie oorkant hul huis.
“Ons is deur die Here vir mekaar gegee,” het Marian gesê.

Louis het aan die News gesê dat hy nog nooit in sy liefde vir Marian getwyfel het nie en dat hulle van die begin af vir mekaar bestem was. Hulle vergewe mekaar en help mekaar met alles.
Vir hulle voel elke dag soos Valentynsdag en hulle vier gereeld hulle liefde vir mekaar. Hulle het al groot dinge saam aangepak en beplan om die komende Valentynsdag mekaar baie te bederf.
“Ek het nog altyd ‘n blommetjie op Valentynsdag gekry,” het Marian gesê.
Hulle wil graag nuwe paartjies en selfs ou getroudes aanmoedig om mekaar te aanvaar, foute en al, mekaar te verdra, mekaar altyd oneindig lief hê en om in alle omstandighede getrou te wees.
Louis het baie wyse woorde vir Nadine gehad, en dit was om nooit egskeiding te oorweeg nie, maar om aan jou huwelik te werk.
Die paartjie sal ook ‘n baie spesiale geleentheid vier wanneer Louis weer op 19 Februarie by die gemeente in Piet Retief waar hy op dieselfde dag 50 jaar gelede sy eerste preek gelewer het, gaan preek.
Die News wens hulle geluk toe en bedank hulle vir hul goeie voorbeeld in die gemeenskap. Gelukkige Valentynsdag!
Lees verder:
Lesers sê wat Valentynsdag vir hulle beteken
Valentynsdag-besoek los glimlagte op talle gesigte
Liefde met musiek, geliefdes en happies gevier
‘n Liefdesfondsinsameling vir kragopwekker
