Toevallig saam met Joost op die veld afgeneem
Die foto was een van die beste huldeblyke wat George Weber as noodhulpbeampte in sy 36 jaar diens kon kry.
Dit sal altyd die droom van ‘n sportnoodhulpbeampte wees om saam met groot rugbyhelde soos Os du Randt en Kobus Wiese op die veld afgeneem te word.
George Weber het, sonder dat hy dit eers geweet het, hierdie geleentheid gehad toe Eugene Labuschagne, ‘n bekende Rapport-fotograaf hom per ongeluk saam met Joost van der Westhuizen tydens ‘n wedstryd teen die Britse Leeus in 1997 afgeneem het.
George was lid van die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga wat op die veld moes draf aangesien een van die Springbokke ‘n besering opgedoen het net nadat Joost die wendrie vir Suid-Afrika gedruk het.
Volgens George was dit ook die eerste keer ooit dat die noodhulpmanne saam met ‘n sportheld op die veld afgeneem is.
“‘n Paar dae later het een van my vriende my gebel en gesê ek moet dadelik die Rapport gaan koop,” het George gesê. “Ek wou nog stry, toe sê hy ‘man gaan koop die ding, jy’s daarin’.”
George het winkel toe gestap en was geskok toe hy sien hy verskyn saam een van sy gunsteling spelers, Joost van der Westhuizen, lewensgroot op Rapport se sportblad.
Hy het dadelik die koerant gebel en gevra dat hulle die foto vir hom stuur. “Een van my kollegas is ook afgeneem, maar die foto was so gesny dat net ek in die koerant was.”
George het vertel dat daardie wedstryd die beste een was wat hy ooit gesien het. Hy het gesê hy kry vandag nog hoendervleis as hy daaraan dink.
“Dit was vir my die grootste eer om ‘n noodhulpbeampte vir sporthelde te wees.” Hy het vertel hy het elke dag gesien hoe die sporthelde nasietrots en positiwiteit in die land beïnvloed het. Met trane in sy oë het George vertel hoe hy rugby van die kantlyn af gekyk het en hoe die skare tekere gegaan het toe Joost daardie legendariese drie gedruk het.
“As jy sien hoe heelhartig die manne die spel gespeel het, sou jou hare ook rys en jou oë ook tranerig raak.”
Hy het gesê die foto was een van die beste huldeblyke wat hy as noodhulpbeampte in sy 36 jaar diens kon gekry het.
Toe die News vir George gevra het wie sy gunsteling speler in daardie wedstryd was, het hy gesê; “In rugby is almal jou gunsteling speler. Jy weet waarvandaan die spelers kom. Jy sien hoe hulle in die sport groei, en op die ou einde, soos met Joost, sien jy hoe die nasie lief word vir die speler en by hom staan tot die bittere einde toe.”
Joost het op 6 Februarie na jare se lyding weens motorneuronsiekte gesterf.
“Ek het ‘n hele dag gehuil en treur steeds oor hom. Hy het werklik die uiterste liefde vir die sport en vir sy nasie getoon.”
Lees meer hier
Rugby fans meet their all time heroes