Is jy gereed om jou hare te laat waai?
Dit is 'n prettige gebeurtenis terwyl jy mense bewus maak van ‘n ernstige siekte.
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) is weereens die gasheer vir die jaarlikse Kansa Shavathon-veldtog.
Op 25 Februarie vanjaar vier Kansa die 14de verjaarsdag van Shavathon by winkelsentrums regoor die land, waarvan Cradlestone-winkelsentrum een sal wees. Van 27 Februarie tot 3 Maart sal die inisiatief ook by werksplekke te sien wees. Kansa moedig werkgewers, korporatiewe instellings en diensorganisasies aan om betrokke te raak. Hierdie instansies kan as ‘n Shavathon-gasheer registreer.
Om ‘n Shavathon-gasheer te wees of om so ‘n geleentheid by te woon, bied mens die kans om deel te wees van ‘n prettige gebeurtenis terwyl mense bewus gemaak word van ‘n ernstige siekte. Vir ‘n R50-donasie (R25 vir kinders onder 12) kan mense hul hare laat skeer of sproei. Hare in poniesterte wat 25 sentimeter of langer is, kan ook aan Kansa geskenk word.
“Shavathon bied aan jou die geleentheid om terug te gee deurdat jy help om fondse in te samel vir sorg- en ondersteuningsprogramme vir kankerpasiënte. Deur jou hare te laat skeer of sproei, of jou hare vir pruike te skenk, bewys jy solidariteit met diegene wat die stryd teen kanker stry, of met geliefdes en vriende van ‘n kankerpasiënt.
“Shavathon is ook ‘n tyd om hulle wat die geveg teen kanker verloor het, te onthou en om aan hulle hulde te bring,” het die hoof van volhoubaarheid, Maria Scholtz gesê.
Om stories en ervaringe te deel, is ook deel van die Shavathon-ervaring. Mense wat voorheen hare geskenk het, deel graag hul ervaringe en stories. Kirshua Ramsammy het so van haar ervaring vertel. “Ek het hierdie jaar my poniestert aan Kansa geskenk sodat ‘n pruik daarvan gemaak kon word. Meer as 30 sentimeter van my hare is afgesny. Omdat dit vir my so ‘n ongelooflike ervaring was, sal ek dit weer en weer doen. Ek skenk graag my hare vir hierdie wonderlike inisiatief.”
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) gaan ook weer vanjaar hul gewig by sekere Shavathon-geleenthede ingooi. Daartydens gaan die publiek aangemoedig word om bloed te skenk terwyl hulle aan die Shavathon deelneem. Bloed wat geskenk word, word dikwels vir kankerpasiënte gebruik.
Die volledige lys van winkelsentrums wat deelneem is beskikbaar op die webwerf https://www.shavathon.org.za/participating-shopping-centres/.
Lees meer hier
Krugersdorp residents take bold steps for cansa
PHOTOS: Another successful Shavathon
