CrimeEditor's choiceNews

VIDEO: Woedende skare rig enorme skade aan besigheid aan

Die eienaar van die besigheid sê dat klante nie moet bang wees na die insident nie.

Dit blyk of ‘n misverstand die oorsaak van miljoene rande se skade aan ‘n plaaslike besigheid kon wees nadat ‘n woedende skare op die perseel toegesak het.

Sondag, 5 Maart was ‘n gewone besigheidsdag by die Factory Deli in Boltonia. Ongeveer 9.15vm het onrus in die strate rondom die besigheid uitgebreek nadat ‘n groep gemeenskapslede die reg in eie hande wou neem en ‘n persoon wat hulle van verkragting verdink het, in die strate van Krugersdorp-Wes rondgejaag het.

‘n Onbekende man op ‘n fiets het die personeel in die deli gewaarsku dat groot moeilikheid op pad was en dat hulle so gou as moontlik hul deure moes sluit. Volgens die eienaar se seun, Armand Lombaard, het die personeel om en by 200 gemeenskapslede op hulle perseel sien afstorm en het so gou as moontlik die deure gesluit.

“Wat ons egter nie besef het nie is dat toe ons die hek toegemaak het, die einste verdagte verby ons geglip en in die winkel gaan wegkruip het,” het Armand gesê. Die verdagte het na bewering in ‘n yskas in die winkel gaan wegkruip.

Die personeel was onbewus van die redes waarom die winkel geteiken is. Die skare, gewapen met messe, byle, bakstene en allerhande skerp voorwerpe het probeer toegang kry tot die perseel, wat hulle uiteindelik reggekry het.

Hulle het die verdagte in die winkel begin soek, maar toe ook van die goedere in die winkel gesteel en beskadig.

Die skade aan die winkel is enorm.

“Ek het met hulle probeer onderhandel en hulle was daartoe bereid, maar dit het nie volgens plan verloop nie,” het eienaar Christo Lombaard gesê.

Intussen het die polisie, EPR Sekuriteit, die Blitspatrollie en Sektor 5 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se lede opgedaag en probeer orde handhaaf. Die skare het later ook probeer om die gebou aan die brand te steek, maar die polisie het hulle gekeer deur rubberkoeëls af te vuur.

“Ons het daarin geslaag om die vrede in die gebied te herstel en vier van die aanvallers gearresteer vir openbare geweld,” het polisiewoordvoerder sersant Tshepiso Mashale gesê. Die verdagte is ook tydens die insident in hegtenis geneem.

Christo het vir die News vertel dat die skade aan sy winkel astronomies is en dat hy nooit ten volle daarvan sal herstel nie.

Die fabriekswinkel wat op Sondag 5 Maart deur ‘n woedende skare geteiken is weens ‘n misverstand.

“Vir 15 jaar lank bou ek my besigheid op en om te sien hoe al my handewerk deur die mense wat geen respek daarvoor het nie, verwoes word, laat my glad nie lekker voel nie. Dis hartverskeurend,” het Christo gesê.

Geen beserings is as gevolg van die insident aangemeld nie en daar was ook nie klante in die winkel nie.

Christo wil graag almal bedank wat ‘n rol gespeel het om hulle te help om sy besigheid te red. Hy wil ook graag sy klante bedank wat hom deur die jare ondersteun het en die wat hom nog gaan ondersteun.

“My klante moenie bang wees na die insident nie. Ons was nie die teiken nie,” het Christo gepleit.

Christo glo dat hulle nie sonder hul klante weer kop bo water sal kan hou nie, maar hulle is vasbeslote om hard te werk en nie moed te verloor nie.

Dit is egter nie waar dit geëindig het nie. Die volgende dag (Maandag, 6 Maart) het ‘n groep ontevredenes by die polisiestasie in Kommissarisstraat opgedaag en geëis dat die polisie hulle daartoe moet verbind om die kriminele aktiwiteite in hulle buurt te beëindig. Hulle en die polisie het later tot ‘n vergelyk gekom en daar word nie verdere onrus in die gebied verwag nie.

Lees meer hier

Protest causes traffic mayhem

Chamdor protest: one man killed

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button