‘n Mens kon nie die haasbekkies wat van oor tot oor geglimlag het by Norniesnes Kleuterskool miskyk nie.

Die kleuterskool het op Vrydag, 24 Maart die opening van hulle nuwe Graad R-sentrum behoorlik gevier. Die leerders en hulle ouers is heerlik bederf met lekkernye wat volop beskikbaar was en gekleurde verf. Ronald McDonald het die kleuters vermaak.
Die skool se leuse is ‘Kom belê in ‘n kleurvolle toekoms vir u kind’, wat perfek gepas het by die bederfdag. Die kleingoed het ook groot pret gehad met ‘n kleurvolle dans.

“Ons is almal baie opgewonde oor die dag,” het onderwyser Claudette Spies gesê.
Die onderwysers glo dat elke leerder ‘n blink en kleurvolle toekoms het en daarom is die kleurvolle karnaval gehou.
Die hoof van Laerskool Krugersdorp-Noord, Charles Miller, was baie trots op die uitbreidings by die skool. Die kleuterskool kan nou met trots in die behoeftes van babas tot Graad R-leerders voorsien.

“Ons het passievolle en gekwalifiseerde personeel wat ons kleingoed op ‘n pragtige terrein help om hul volle potensiaal te ontwikkel,” het kleuterskoolhoof, Estie Ellis gesê.
Die skool, sy personeel en sy leerders het groot drome en glo dat hulle met harde werk en passie sukses sal behaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
