[OPVOLG] Dogter blaas oorlede pastoor se 34ste kersie
Die kerk was stampvol vriende en familie, en daar was nie 'n droë oog nie. Talle het hom beskryf as ‘n leier, ‘n inspirasie en ‘n vriend.
Donderdag, 22 Junie was ‘n dag van rou vir baie Krugersdorpers toe die lewe, asook die verjaarsdag van ‘n geliefde pastoor by Prisma Kerk gevier is.

Pastoor en senior ouderling van die Lighthouse Church, Riaan Smit is Maandagoggend, 19 Junie op die ouderdom van 33 jaar oorlede nadat hy vir sewe weke lank in ‘n stryd met ‘n verskeidenheid siektetoestande gewikkel was.
Lees die aanvanklike berig hier: Beloved pastor passes away
Die kerk was stampvol vriende en familie, en daar was nie ‘n droë oog nie. Talle het hom beskryf as ‘n leier, ‘n inspirasie en ‘n vriend.
“Sy oë het altyd gelag en hy het nooit gekla nie, al het dit hoe sleg gegaan. Hy het nooit sy vreugde verloor nie en hy was lief vir die waarheid. Hy het soveel mense geïnspireer. Hy het werklik geleef,” het pastoor Thinus Delport gesê.
Aan die einde van die diens het sy vrou, Chantalle en oudste dogter, Alyssa, Riaan se verjaarsdag op ‘n baie spesiale manier gevier.
“Elke verjaarsdag in ons huis was ongelooflik spesiaal. Jy word wakker gesing, dan word daar saam koek geëet en die res van die dag word jy uit jou skoene bederf,” het Chantalle vertel.

Sy het verder verduidelik dat Alyssa nog elke jaar saam met haar pa die kersies op sy verjaarsdagskoek doodgeblaas het.
Daarna het die gemeente vir Riaan vir sy verjaarsdag gesing en Alyssa het vir haar pappa sy 34ste kersie doodgeblaas.
Rus in vrede, Riaan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
