Breiwerk help teen die bibberweer
Ongeveer 14 sakke vol gebreide artikels is ontvang en gaan 'n reuse, en warm, verskil aan minderbevoorregtes se lewens dié winter maak.
Talle kinders tussen die ouderdom van slegs ‘n paar weke tot 15 jaar oud sal dié winter met ope arms kan verwelkom – als te danke aan ses vroue van Moria Sentrum vir Bejaardes se puik breivermoë.
Op Dinsdag, 27 Junie was Aret le Roux, wat betrokke is by die Emmers Vol Liefde-liefdadigheidsorganisasie, verras toe die organisasie ongeveer 14 sakke vol breiwerk van die groep vroue ontvang het.

In die sakke was daar ‘n groot verskeidenheid gebreide mussies, serpe, bedsokkies en babaskoentjies.
Volgens Engela Jacobs, een van die breiers, het dit hulle slegs vyf maande geneem om soveel gebreide items op te tower.
“In Februarie het matrone Leanne van Wyk ons gevra of ons nie die liefdadigheidsprojek wil behartig nie. Ons het sonder twyfel ingestem en dadelik weggeval,” het sy vertel.
Dié groep het gesê dat hulle gereeld projekte van dié aard aanpak en brei graag om terug gee aan die gemeenskap.
Volgens Betsie Stokes, stigter van Emmers Vol Liefde, sal die gebreide artikels verdeel en geskenk word aan families wat dit nodig het.
“Ons is innig dankbaar vir die skenking, en ook geweldig lief daarvoor om betrokke te wees by mense wat wil teruggee aan die gemeenskap,” het Aret ten slotte vertel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
