Monnas rou oor ‘boesempêlle’
Gedurende die diens is twee huldeblyke gelewer wat deur hul maats geskryf is. Nodeloos om te sê, die trane het vlak gelê.
Die nuwe kwartaal het op ‘n droewige noot by Hoërskool Monument (Monnas) begin toe leerders, onderwysers en ouers hulde gebring het aan twee ontslape Graad 12 Monumentare, Raymond Olivier en Cornel Bekker.
Op Woensdag, 19 Julie het Raymond en Cornel tydens ‘n kampuitstappie weens ‘n lekkende gasbottel versmoor.
Lees hier: Twee Monumentare sterf toe gasbottel lek
Hul roudiens, wat dominee Gerhard Slabbert gelei het, is op Woensdag, 26 Julie by die skool gehou. Dit was vir baie leerders ‘n baie moeilike ervaring aangesien dié ‘boesempêlle’ glo deel van verskeie vriendegroepe was.
Gedurende die diens is twee huldeblyke gelewer wat deur hul maats geskryf is. Nodeloos om te sê, die trane het vlak gelê.

Uit die huldeblyk aan Cornel was dit duidelik dat hy rustig was en hom deur min laat ontstel het. Hy het ook nooit ‘n lelike of skewe word vir iemand gesê nie.
“Hy sal onthou word vir al hierdie goed. Hy sal onthou word vir sy kosblik met sy ma se kookkos wat hy elke dag uitgehaal en met ‘n vurk geëet het. Cornel was elke dag nét betyds vir skool, en onthou, sy bed is minder as 100 meter van die skoolhek af,” het Hanlie Vahrmeijer vertel. “…
Die laaste ding van Cornel wat ons altyd sal onthou is sy verhouding met sy ma. Hy was nie skaam om te vertel hoe spesiaal sy vir hom was nie.”
Sy het bygevoeg dat die onderwysers hom sal onthou as ‘n jong man met pragtige maniere en toewyding.
Raymond het ‘n spesiale plek in almal se harte gehad en diep spore gelaat. Met sy humorsin het hy ‘n groot impak gemaak aangesien hy enigiemand se dag kon opkikker met ‘n goeie grap, gevolg deur sy kenmerkende lag.
Hy was ook ‘n goeie visser en het dit geniet om saam met sy oupa en vriende te hengel. Hy was op sy gelukkigste langs die water met ‘n visstok.

Hy het die volgende in sy laaste Afrikaans-eksamenopstel geskryf, met die titel Die lewe is een groot avontuur:
“Ons kan besluit – self besluit hoe ons ons lewe wil leef. Ons moet dankbaar wees vir elke dag wat ons op Moeder Aarde kan spandeer.
Ons moet elke dag voluit leef asof dit ons laaste dag op aarde is omdat ons nie weet wat môre vir ons inhou nie. Dit hang van my en jou af, of ons lewe ‘n avontuur gaan wees.”
Die diens is afgesluit met een van Monnas se tradisies – om die monument se klok te lui vir die aantal jare wat die ontslape leerders deel was van die Monnas-familie.

Vir die eerste keer in Monnas se geskiedenis is die klok vyf maal gelui vir elkeen van die twee leerders.
Raymond en Cornel sal altyd by die skool onthou word as die pragtige en opregte seuns wat hulle was.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
