Monnas, Moria en musiek
Een van Monnas se bekende persoonlikhede het by dié plaaslike tehuis gaan kuier.
Ongeveer 20 bejaardes van die Moria Sentrum het onlangs sommer baie lekker saam met Hoërskool Monument (Monnas) gekuier toe ‘n nie-so-vreemde gesig hulle behoorlik vermaak het.
Op Donderdag, 10 Augustus het een van Monnas se bekende persoonlikhede, Esté Pienaar by dié tehuis gaan kuier. Sy het vir die inwoners gedigte voorgelees, grappies en allerhande staaltjies vertel.

Die bejaardes het aandagtig gesit en luister hoe Esté hulle terugneem na die goeie ou dae – die dae van sorgloos buite baljaar en om saam met hul ouers te gaan dans, wat destyds niks vreemd was nie.
Sommige staaltjies het die trane laat vlak lê terwyl ander die gehoor laat skater het van die lag. Dit was Esté se hooffokus om elke bejaarde te bedank vir hul goedheid en die positiewe verskil wat hulle in ander se lewens gemaak het.

“Ons almal het al iets gedoen waarop ons trots kan wees. Almal wat hier voor my sit het al soveel in die lewe bereik. Dis al hierdie dinge waarop ons kan terugkyk wat ons weer krag gee vir die pad vorentoe,” het sy vertel.
“Ons kinders speel ook ‘n ongelooflike groot rol in ons lewens. Hulle is ons rykdom en ons moet hulle geniet terwyl ons kan. Hulle herinner ons dat ons ook jonk was.”

Dié besoek is letterlik op ‘n hoë noot afgesluit toe een van Monnas se top musiekleerders, Miguel Leitao, ‘n asemrowende vioolnommer gelewer het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
