Editor's choiceNewsSchools

Nuwe hoofstuk vir N Diederichs

Met die hulp van Manie het dié toegewyde leerders al twee opritte, drie stelle trappe, tuinbankies vir die matrieks en 'n rustieke braai area gebou.

Hoër Tegniese Skool N Diederichs Technical Hich School is besig om die eerste blaai van ‘n splinternuwe hoofstuk om te slaan, en dit lyk belowend.

Manie van den Berg, Senior Onderwyser in beheer van die skool se werkswinkels is absoluut verheug omdat die 2018-matrikulante die eerste groep sal wees om met agt tegniese vakke te matrikuleer.

Bruce Marais, Boitumelo Molapo, Rhode Botha en Thebe Mokolare berei voor vir hul eksamen op een van die bankies wat hul self gemaak het. Foto: Alanicka Lotriet.

Dit is merkwaardig aangesien daar in die verlede slegs drie van dié vakke tot die leerders se beskikking was. Die drie hoofvakke is Meganiese Tegnologie, Siviele Tegnologie en Elektriese Tegnologie.

Die subvakke, wat deel uitmaak van die hoofvakke sluit in Motorkunde, Pas- en draaiwerk, Sweis- en metaalwerk, Boukonstruksie, Houtbewerking, Digitale elektronika, Elektrisiteit en Elektronika. Dié uitbreiding stel leerders in staat om in diepte oor groter gebiede in die tegniese bedryf te leer.

Thebe Mokolare het hard gewerk aan elke projek. Foto: Alanicka Lotriet.

“Die land het ‘n behoefte aan ingenieurs, en ons het die bekwame onderwysers en fasiliteite. Die leerders kan soveel meer as tevore leer – nie net teoreties nie, maar ook prakties,” het Manie vertel.

Dit is waarom hy met die inisiatief vorendag gekom het dat die leerders as deel van hul praktiese opleiding die skoolterrein opkikker.

“Ek kan al sien hoe kom die kinders oor 10 jaar met hul gesinne terug en sê, ‘Kyk, ek het dit gebou’. Ons beoog om trots by die leerders te kweek,” het hy gesê.

Boitumelo Molapo berei voor vir die eksamen op een van die bankies wat sy self gemaak het. Foto: Alanicka Lotriet.

Met Manie se hulp het dié toegewyde leerders al twee opritte, drie stelle trappe, tuinbankies vir die matrieks en ‘n rustieke braai-area gebou.

Hulle is ook in die proses om ‘n modderige helling in ‘n soort mini-amfiteater te omskep. Hy het vertel dat hy graag die leerders se belangstelling wil prikkel om ‘n toekomstige beroep te oorweeg waarvan dié vakke die basis vorm.

Bruce Marais maak seker die bankie is waterpas. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ons sou ook nie sulke goeie resultate kon kry sonder die bereidwilligheid van ons borge nie. Daarvoor is ons hulle ewig dankbaar,” het hy gesê.

Hy beoog om die tradisie voort te sit deur toekomstige graadgroepe ook die geleentheid te gee om verskeie opgraderingsprojekte aan te pak.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button