Ebies-oupas en -oupas kuier saam
Dié dag het ongeveer 100 gaste, waarvan 80 oumas en oupas was, in Ebies se skoolsaal bymekaargekom om die oggend saam te geniet.
Alhoewel Christ Kids Trust – ‘n nieregeringsorganisasie wat daarop fokus om die liefde van God in skole te versprei – ‘n knap begroting het, het hul dit weereens reggekry om met die hulp van die gemeenskap hul jaarlikse Oupa- en Oumadag vir Laerskool Ebenhaeser (Ebies) aan te bied.
Vir die afgelope drie jaar doen dié organisasie ‘n beroep op alle plaaslike inwoners en gasvroue om vir een oggend lig in die lewens van ‘n paar spesiale gaste te bring.

“Talle inwoners het gereageer deur hul harte en beursies oop te maak. Soveel mense het uit hul pad gegaan om die dag vir die grootouers van Ebies-leerders moontlik te maak,” het Joey Human van Christ Kids, wat in beheer is van die projek, vertel.
Dié dag het ongeveer 100 gaste, waarvan 80 oumas en oupas was, in Ebies se skoolsaal bymekaargekom om die oggend saam te geniet.

“Hierdie oupas en oumas is heel waarskynlik gesamentlik verantwoordelik vir die grootmaak en oppas van kleinkinders. Ten spyte van daaglikse uitdagings bly hulle positief. Dit het duidelik geraak toe een van die oupas – wat saam met sy vrou ‘n drieling grootmaak omdat hul ma baie siek is – die gehoor met sy mondfluitjieversameling vermaak het,” het sy vertel.
Die kunstenaar Kay-Bee het die gaste selfs op hul voete gehad toe sy van haar bekendste treffers gesing het. Volgens Joey het dié wat kon, heerlik saam gedans en gesing nadat hulle smullekker eet- en drinkgoed saam geniet het.

“Ons wil graag almal bedank wat die dag ‘n reuse sukses gemaak het, insluitend Trinityhouse se leiers, Kay-Bee, inwoners en gasvroue,” het sy bygevoeg.
Indien jy om meer wil weet of ‘n bydrae wil lewer, skakel gerus vir Nadinde Swanepoel van Christ Kids by 082 093 7845 of stuur ‘n e-pos na nadinedej@gmail.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
