Editor's choiceNewsSchools

Kennies-haasbekkies sien uit na die ‘grootskool’

Elke Graad 1 leerder het saam met hul mamma en pappa tou gestaan voor die Kennieshek waartydens die skoolgelukbringer, Kennie-Muis hul behoorlik vermaak het.

Nog voor die doudruppels in die son se vroegste strale smelt, het 190 kleintjies met oorgrootte rugsakke, vermiste voortande en pare roesbruin sokkies die huis verlaat vir die eerste dag van laerskool.

Laerskool Kenmare-personeel was verheug om soveel nuwe, opgewonde, grootoog gesiggies te ontmoet. Die graadeentjies het saam met hul mammas en pappas tou gestaan voor die Kennies-hek terwyl die skoolgelukbringer, Kennie-Muis hulle behoorlik vermaak het.

Nadat elkeen persoonlik deur die hoof – Wouter Immelman – gegroet is, is elke nuwe Kennie die geleentheid gegun om deel te raak van ‘n ryk tradisie deur die silwer klok, wat die begin van hul skoolloopbaan simboliseer, by die ingang te lui.

Die News het met ‘n paar van dié haasbekkies gesels. Vir elke maat is die volgende vrae gevra:

• Wat dink hulle is die ‘grootskool’?

• Wat dink hulle doen ‘n mens in die ‘grootskool’?

• Is hul bang of opgewonde?

• Wat wil hulle word wanneer hulle eendag groot is?

• Wat doen die mense in daardie beroep?

Alhoewel sommiges behoorlik moes kopkrap oor wat die grootskool nou eintlik is, was almal doodseker van wat hulle gaan word wanneer hulle eendag groot is.

Kerry-Lee van Rooyen het vertel dat sy eendag ‘n haarkapper gaan word om ander se hare net so mooi soos haar eie te sny. Alhoewel haasbekkie, Biané Cosmo nie seker is wat die ‘grootskool’ vir haar inhou nie, wil sy graag eendag ‘n juffrou wees. Sy is ook opgewonde om uit te vind wat dié sewejaar-paadjie vir haar inhou. Eduan Opperman het sy prioriteite agtermekaar aangesien hy eendag ‘n ninja gaan word. Dis reg – ‘n ninja met die beste karate en judo moves onder die son.

Al lyk die laerskoolpaadjie steeds effe vaag is daar geen twyfel dat elke maat se toekoms so blink en helder soos daglig is nie.

Sean du Plessis kuier saam met Kennie-Muis. Foto: Alanicka Lotriet.
Jenica van der Walt is besig om die klok te lui. Foto: Alanicka Lotriet.
Natalie en Naomi Nel is gereed vir hul eerste dag. Foto: Alanicka Lotriet.
Kerry-Lee van Rooyen wil eendag ‘n haarkapper word. Foto: Alanicka Lotriet.
Mia van Rensburg wil eendag ‘n perdejuffrou word. Foto: Alanicka Lotriet.
Biané Cosmo en Miné van der Berg is klaar beste maats. Foto: Alanicka Lotriet.
Jenica van der Walt is besig om die klok te lui. Foto: Alanicka Lotriet.
Sean du Plessis kuier saam met Kennie-Muis. Foto: Alanicka Lotriet.
Een laaste drukkie voor die grootskool begin. Foto: Alanicka Lotriet.
Natalie en Naomi Nel is gereed vir hul eerste dag. Foto: Alanicka Lotriet.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button