Nuwe Monumentare verwelkom
Vir die afgelope 29 jaar word nuwe Monumentare ingelyf deur die skool se bekende hekkiestap.
Sedert Hoërskool Monument (Monnas) se bestaan in 1921, het hulle vir verskeie ryk tradisies bekendheid verwerf. Een van die kosbaarstes is die jaarlikse verwelkoming van hul nuwe Graad 8’s.
Die afgelope 29 jaar word nuwe Monumentare ingelyf deur die skool se bekende hekkiestap. Vanjaar was geen uitsondering nie toe elke Graad 8-leerder deur die hekkie – wat die begin van hul hoërskoolloopbaan simboliseer – gestap het en met hul nuwe hoof, Johann Calitz bladgeskud het.

Die spesiale verwelkoming was op Vrydag, 2 Februarie waartydens onderwysers en ouers kon toekyk hoe ‘n nuwe groep jongmense hul volgende hoofstuk betree.
Volgens Monnas se Esté Pienaar het dié hekkie al ongeveer 16 500 nuwe leerders aan die skool besorg sedert die matrieks van 1988 dit ‘n instelling gemaak het.
Die klok is ook vyf maal gelui, wat die vyf jaar van die leerders se hoërskoolloopbaan simboliseer.

“Dit word nie net vir ons nuwe leerders gelui nie, maar ook vir ons matrieks wat vir vyf jaar deel was van ons familie. Daarmee saam wens ons hulle ook graag sterkte toe met hul nuwe reis in die grootmenswêreld,” het sy vertel.
Die leerders en personeel het terselfdertyd die verjaarsdag van die skool gevier wat Donderdag, 1 Februarie reeds 97 jaar tevore geopen is.
Monnas is opgewonde om vir die volgende vyf jaar toe te sien dat hul nuwe Graad 8’s tot hul volle potensiaal groei, ontwikkel en hul beste gee in alles wat hulle aanpak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
