Editor's choiceMunicipalNews

‘Riverside informele nedersetting langs Cradlestone is die vlieg in die salf’ – VF Plus

"Die munisipaliteit steun die onwettige nedersetting verder deur gratis water aan die inwoners te voorsien."

Tjaart Steenkamp, VF Plus-raadslid in Mogale City, meen dat die Riverside informele nedersetting agter Cradlestone Mall die vlieg in die salf is wat konstruksiewerk aan die N14-oorbrug by die Pinehaven-kruising in die wiele ry.

Hy het gesê die VF Plus-raadslede het by verskeie geleenthede die Mogale City-stadsraad gewaarsku om betyds dié grondbesetting te verhinder, maar die versoek het telkens op dowe ore geval.

Riverside/ Taxi House informele nedersetting.
Foto: Bianca Pindral.

“Die munisipaliteit steun die onwettige nedersetting verder deur gratis water aan die inwoners te voorsien,” het Steenkamp gesê.

“Hul verskoning dat hulle nie teen die onwettige grondbesetters kan optree nie omdat die grond aan Gautrans behoort, is nie geldig nie. Dit is die plig van die Mogale City-munisipaliteit om te verseker dat duur ontwikkelings soos Cradlestone beskerm word. Die rivier word besoedel en die inwoners maak hulle skuldig aan onwettige elektrisiteitskoppeling. Die meerderheid mense in Riverside is boonop buitelanders.”

Die VF Plus meen dat hulle nie onsensitief is teenoor haweloses nie, maar dat plaaslike en provinsiale behuisingsowerhede egter verantwoording moet doen omdat behuisingsbegrotings jare lank nooit ten volle aangewend is vir die oprigting van laekostebehuising nie.

Die nedersetting grens ook aan Hendrik Potgieterweg.
Foto: Bianca Pindral.

Steenkamp het vertel dat Krugersdorp die verste in die provinsie daarmee agter is.

“Wat is al die jare met die begrotingsgeld gedoen?”

Volgens die Steenkamp behoort die kwessie van onderprestering met die ontwikkeling van laekostebehuising na die Provinsie se spesiale ondersoekeenheid verwys te word.

Mogale City se burgemeester, Naga Patrick Lipudi, se poging om dié in die nedersetting na ‘n eiendom verder op in Honingklip te skuif, het ook platgeval aangesien die aangewese stuk grond reeds aan die inwoners van Honingklip belowe is. Die Honingklip-gemeenskap het heftig beswaar hierteen gemaak.

Die informele nedersetting langs Cradlestone Mall.
Foto: Bianca Pindral.

“Krugersdorp se inwoners sal seker nog 16 jaar moet wag vir dié uiters noodsaaklike oorbrug wat as Ruimsig Boulevard bekend sal staan – nie net om lewensverliese te voorkom nie, maar ook om verkeersvloei te vergemaklik.”

Mogale City-munisipaliteit is oor die klagtes gekontak, maar geen terugvoering is ontvang toe hierdie artikel gepubliseer is nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein Herald

Roodepoort Record

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button