Stadsraad wurg belastingbetalings
Die munisipaliteit se finansiële bestuur en beplanning laat veel te wense oor.
Mogale City Plaaslike Munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se begroting vir die komende finansiële jaar wat onlangs tydens ‘n raadsvergadering goedgekeur is, benadeel die ekonomie.
Tjaart Steenkamp en Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslede vir Mogale City het gesê watertariewe vir besighede word met meer as 12 persent verhoog terwyl tariewe vir huishoudelike gebruik met nagenoeg ses persent styg. Betalende inwoners kry voortaan ook nie meer die gratis ses kiloliter water per maand nie. Inwoners moet ook nagenoeg sewe persent meer vir elektrisiteit betaal en ses persent meer vir vullisverwydering.
“Betalende inwoners moet wanbetalers subsidieer terwyl hulle self ly weens gebrekkige dienslewering en vervalle infrastruktuur.
“Die begroting van die munisipaliteit is nie daarop gemik om die ekonomie van die onderskeie dorpe te stimuleer deur ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor te skep nie. Die onbillike watertariefverhogings kom terwyl groot gedeeltes van Krugersdorp gereeld sonder water is,” het die twee raadslede in ‘n verklaring gesê.
Lees ook: Strike at municipality: workers demand their bonus
Volgens Steenkamp en De Lange laat die munisipaliteit se finansiële bestuur en beplanning veel te wense oor. ‘n Ernstige tekort aan kontantvloei noodsaak munisipale lenings, waarop rente betaalbaar reeds R45 miljoen beloop.
“Te midde van die geweldige finansiële druk waaronder die munisipaliteit verkeer, is dit onaanvaarbaar dat die salarisrekening met 11 persent styg. Die grootste gedeelte van die salarisrekening word aan dié in bestuursposte betaal. Dit is kommerwekkend aangesien die werksaamhede van die munisipaliteit nie van kundige bestuur getuig nie.
“Die VF Plus kan dus nie die ontoereikende begroting steun nie,” het hulle gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
