Sersant vereer wat talle uit brandende gebou help
Sersant Henning beskou dit bloot as deel van sy werk toe hy gehelp het om talle lewens tydens 'n brand te red. Hy is vereer vir sy dapperheid.
Die Stad Johannesburg het hulde gebring aan al die nooddienswerkers wat in September verlede jaar hul lewens op die spel geplaas het toe daar ‘n brand in die Bank van Lissabon-gebou in Johannesburg ontstaan het en ‘n aantal brandweerlede deur die brand vasgekeer is.
Een van die helde van daardie dag was sersant Renier Henning van die Wes-Randse Honde-eenheid se Soek- en Reddingspan.
Daardie dag het drie brandweerlede hul lewens verloor, maar talle ander is gered.

Renier het ‘n medalje vir dapperheid by die uitvoerende burgemeester, Herman Mashaba en lid van die Burgemeesterskomitee vir Openbare Veiligheid, Michael Sun, ontvang vir alles wat hy daardie dag gedoen het om sy makkers te help.
Renier het in 1994 by die polisie aangesluit en werk reeds 19 jaar met honde. Hy het so vyf jaar gelede by die Wes-Randse Honde-eenheid se Soek- en Reddingspan aangesluit en dit is toe hy vir Tyson, sy swart Belgiese Herdershond-Labrador-kruising gekry het.
Tyson was die dag van die brand nie betrokke by die reddingsoperasie nie maar andersins doen die twee saam toureddings, waterreddings, soek-en-redding na rampe, help duikers om liggame te soek, soek vermiste persone en nog vele meer.
Die twee van hulle het onlangs ‘n vlak graf in Randfontein gevind wat meegebring het dat ‘n man gearresteer is omdat hy vermoedelik sy vrou vermoor het.
Volgens Karen du Plessis, kommunikasiebeampte vir die Wes-Randse Honde Eenheid en die Wes-Randse Blitspatrollie, is hulle almal baie trots op Renier en het gesê hy is ‘n toonbeeld van die dapperheid van hul lede.
Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at krugersdorpnews@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.
For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites
Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!
