Dieëtkundige Natasha Smit het onlangs ‘n draai by Laerskool Kenmare gemaak om met die kinders te gesels oor boelies en hoe om hulle te hanteer.
Dit is deel van ‘n projek wat die skool elke kwartaal aanpak om kinders te leer oor en te help met speelgrondboelies.
Elke kwartaal het ‘n ander tema, en hierdie keer het dit gegaan oor hoe om fisies en emosioneel gesond te lewe, en om slegte invloede van buite beter te hanteer. Een van hul volgende sessies gaan handel oor aanlynboelies en ‘n ander spreker sal dan kom gesels.
Natasha het vir die leerders geleer hoe om die perfekte smoothie te maak om hul liggame gesond te hou. Sy het dié konsep uitgebrei na ‘n gesonde geestesingesteldheid.
Sy het ook baie klem gelê op die boelie self, deur vir die leerders te leer om te dink soos boelies, en te verstaan hoekom hulle so optree. Sy glo dat die meeste kinders wat ander kinders afknou, self afgeknou word of is. Dit kan ook wees dat daar iets anders verkeerd gaan in hul lewens, en dit vir hulle te moeilik is om te hanteer. Sy het die leerders aangemoedig om eerder met ‘n boelie te gesels, en dalk selfs te help om die moeilike goed te verwerk. Al wat mens dikwels nodig het is ‘n vriend wat jou kan bystaan.
Die skool het ook ‘n sogenaamde ‘boelieposbus’ waarin leerders ‘n brief kan plaas om te vertel hoe hulle afgeknou word. Personeel en onderwysers soos Jeannette Ceronio, Willine Joubert en dissiplinehoof Jakkie van der Walt lees dan die briewe en probeer die leerders so veel as moontlik help.

