Meer as 50 leerders het onlangs die loopplank aangedurf tydens Hoërskool Noordheuwel se Mnr en Mej Norie-kompetisie.
Die aand se gebeure het afgeskop met ‘n optrede deur die sanger Deon Groot, wat ook die aanbieder tydens die geleentheid was, gevolg deur twee gechoreografeerde danse deur die deelnemers om die gehoor in die regte gees te kry.

Eregas Marika Venter het ‘n spesiale motiveringsboodskap gelewer waarin sy vertel het hoe mens enigiets in die lewe kan oorkom solank jy net jou bes doen. Marika het op die ouderdom van agt jaar haar rug in ‘n motorongeluk gebreek. Sy is vandag ‘n tennisster, model en motiveringspreker, het ‘n graad in skoonheidsterapie verwerf, en is tans besig met ‘n graad in bemarking.
Jaden Smith en Johan Mahne is in die Junior-kategorie as onderskeidelik die Eerste en Tweede Prins aangewys, terwyl Walt Dreyer en Sebastian Burger trots gelyk het toe hulle in die Senior-kategorie onderskeidelik as die Eerste en Tweede Prins gekroon is.

In die kategorie vir Junior Dogters is Danielle Day en Mienke Rossouw gekies as Eerste en Tweede Prinses, met Lee du Plessis en Bridgette Sandenbergh as die Eerste en Tweede Prinses in die Senior-kategorie.
Toe breek die oomblik aan waarvoor almal gewag het. “Hierdie jaar se Junior-wenner en Meneer Norie 2019 is … ” het Deon gesê en eers die spanning laat opbou voordat hy uiteindelik Janco de Beer se naam aangekondig het. Die wenner onder die Junior Dogters was Marisse Huysamen.
Björn Andringa het toe die titel as Meneer Norie Senior gewen, en Mej Norie Senior was niemand anders nie as Chanique Stander.
Baie geluk aan elke Norie wat deelgeneem het, julle hou jul skool se naam hoog.
Om na nog spogfoto’s te kyk, kliek hier
