NewsSchools

Kennies word geleer oor kuberafknouery

Kennies-leerders is geleer van kuberafknouery, en vertel hoe hulle die probleem self kan teenwerk.

Die deurlopende en groeiende probleem van afknouery in skole verg deesdae al hoe meer aandag van ouers en onderwysers.

Met die internet prominent in jong kinders se lewens word die probleem net soveel moeiliker om te beheer. Daar moet dus meer gereeld spesiale aandag aan die probleem gegee word.

Laerskool Kenmare het ‘n kwartaallikse program ingestel om leerders in te lig en op te lei om afknouery in die skool en in hul private lewens die hoof te bied. Met die program hoop hulle ook om sogenaamde boelies te leer om nie ander af te knou nie. Die program het tot dusver ‘n positiewe impak op die skool gehad en afknouery het al aansienlik afgeneem.

Hierdie kwartaal word klem gelê op die internet en kuberboelies. Die Verenigde Nasies het in 2012 aangekondig dat 4 Mei as die internasionale teenboeliedag erken sal word, hoewel sommige lande die dag op ander datums vier.

Die Brave Heart-organisasie het die nasionale Antiboeliedag (3 Mei) ingestel en dit is ook die dag waarop Laerskool Kenmare dié gesprek begin het.

Leerders kon vir die dag iets klein by hul skooluniforms voeg om aan te dui dat hulle die dag ondersteun. Iets blou, soos ‘n strikkie, ‘n das of ‘n kopdoek het vergifnis voorgestel. Iets rooi het gestaan vir liefde.

Om te help om die boodskap suksesvol oor dra, en dit interessant en onvergeetlik vir die jong klomp te maak het die toneelgroep, Produksie 2 000 die skool besoek. ‘n Vertoning in die saal het kuberafknouery op ‘n prettige maar ook ernstige manier voorgestel. Die leerlinge het elke oomblik daarvan geniet en selfs saam gespeel en opgewonde uitgeroep wanneer iets groot op die verhoog gebeur het. Dié boodskap het duidelik tot die leerlinge deurgedring, en mens kan aanneem dat hulle dit sal onthou en self toepas.

Die skool sal ook in middel Junie die kuberboelieprogram opvolg met ‘n praatjie deur SaveTNet Cyber Safety tydens hul oueraand in die skoolsaal. Hier sal ouers ook bemagtig word om hul kinders te leer hoe om afknouery uit te skakel en te verwerk, asook hoe om hul kinders veilig te hou ten opsigte van die internet.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button