Arrie kan weer loop – en weer lewe
'n Geroeste spyker het Arrie Barnard se lewe vir ewig verander.
Arrie Barnard was ‘n gelukkige jong man met ‘n blink toekoms. Nadat hy by ‘n partytjie onverwags in ‘n ou spyker getrap het, het hy hom aanvanklik nie daaraan gesteur nie en het dit skaars agtergekom. Eers die volgende dag het Arrie werklik besef dat die spyker diep in sy hak ingesteek het en sy been van die knie af ondertoe laat gevoel verloor het.
Hy is later hospitaal toe en het daar gehoor hoe ernstig sy besering was. Die spyker het reg deur ‘n beentjie in sy voet gesteek en dit gebreek.
‘n Klompie weke later was daar ernstige gangreen in sy voet. Hy is weer hospitaal toe en daar moes sy been onmiddellik afgesit word.
Arrie moes 22 jaar lank met een been op krukke aansukkel. Sonder ‘n vaste inkomste kon hy nooit ‘n prostese bekostig nie.
Dit lyk egter asof dit hom nie meer pla nie omdat hy met soveel entoesiasme oor die hele situasie gesels.
Maar, daar is vandag geen traan, swaarkry of haatgevoel in sy oë nie. Arrie voel geseënd en sien uit na die toekoms.
Na twee dekades van sukkel en op die broodlyn lewe het hy ‘n nuwe kans ontvang. Op 50 kan Arrie weer normaal loop, danksy die hulp van ‘n paar barmhartige Suid-Afrikaners.
Dominee Jannie Pelser en Toekomsvenster het gehoor van twee lede van die Applepark-gemeenskap wat albei dringend prosteses nodig gehad het. ‘n Paar oproepe later het ‘n prostotis ingestem om vir beide persone elk ‘n prostese te maak en vir hulle die nodige fisioterapie te gee.
Arrie het uiteindelik by ‘n konstruksiemaatskappy werk gekry waar hy iets van alles doen. Die gereelde inkomste stel hom in staat om soveel meer te doen en laat hom voel of hy werklik weer deel van die gemeenskap is.
Vandag kan Arrie werk, normaal loop en selfs ‘n voertuig bestuur. Sy wens is om ander mense te wys dat mens enigiets kan oorkom en dat mens hard kan werk, selfs met ‘n gestremdheid.

