‘n Boek om mans terug te lei na manwees soos God vereis
Professor Gerrie Bester het onlangs sy nuwe boek aan 'n skare van kerkgangers bekend gestel wat opgewonde was om die boek onder oë te kry.
By die Christian Faith Worship Centre (CFWC) was die fokus een Sondagoggend nie net op die mans in die kerk nie, maar op gesinne as ‘n geheel. Daar is gesê dat mans nie meer weet wie hulle is nie, en dat daar ‘n identiteitskrisis onder die mans binne hul eie huisgesinne is.
Professor Gerrie Bester het voor ‘n groep van sowat 1 500 mense gestaan en sy preek gelewer, en het na die tyd saam met al die ander mans op sy knieë gegaan om God te aanbid.
Die groot aantal mense was nie net daar vir die weeklikse diens nie, maar om saam met Gerrie die bekendstelling van sy nuwe boek, Mighty Men Of Valour – Let’s Rise Before Our King te vier. Daar was van die boeke te koop en Gerrie het kopieë buite die gebou geteken. Daar was ook heerlike verversings beskikbaar, en daar is heel gesellig verkeer.
“Die boek handel oor verskeie areas waar ons as manne so maklik deur die vyand aangeval en verneder word; waar ons manwees afgebreek word tot op die grond; en hoe om daaruit op te staan en magtige krygers in die gees te wees,” het Gerrie verduidelik.
Baie mense het geglimlag en soms weer ernstig gelyk terwyl hulle deur die boek geblaai het. Gerrie en sy span is groot geluk en voorspoed toegewens, en mense het die dag met blydskap saam met hom deurgebring.
Mighty Men Of Valour – Let’s Rise Before Our King is tans beskikbaar by Desert Rose-boekwinkel in Monument. Vir meer inligting kan ‘n epos gestuur word aan info@roaringtruth.co.za.

