Die lewe word al hoe duurder. Maar hoe maak mens dan as dit kom by die jongklomp? Dit is tog belangrik dat kinders die geleentheid moet kry om hul skooldae te geniet, en by alles saam met hul maats betrokke te wees.
Hoërskool Noordheuwel het nog altyd probeer om hul leerlinge daarmee te akkommodeer, en het dikwels mense van buite die skool genader vir donasies. So het die behoefte ontstaan om ‘n meer permanente struktuur te vestig en Klub Nories is gestig. Dit is die inisiatief van ouers in die gemeenskap om te verseker dat ‘n permanente netwerk sal aanhou bestaan om donasies vir behoeftiges in te bring.

Op 31 Mei het Klub Nories Ondersteunersklub ‘n sportaand by die skool gereël waartydens die kykNET-geselsprogram, Toks en Tjops vanaf 8nm direk van die skool af gebeeldsend is.
Die wins van die aand sal vir meer as een goeie doel aangewend word. Die skool gaan ‘n gedeelte gebruik om hul eie leerders te help wat fondse vir bepaalde aktiwiteite nodig het, en ‘n ander gedeelte gaan die klub gebruik om ander buite die skool te help.
“Ons wil liefde binne die skool en na buite gee,” het Jan Bolt, een van die ouers en Klub Norie-lid gesê.
Jan het ook genoem dat hulle in ‘n artikel in die News gelees het van Laerskool Ebenhaeser en dat hulle ‘n behoefte aan nuwe rugbytruie het.
Charl Naudé van Bethany House en die hoof van Laerskool Ebenhaeser, Koos Lamprecht het gedurende die koel oggend van Donderdag, 13 Junie, by die skool ‘n draai gemaak waar Jan en Noordheuwel-hoof, dr Jac Fourie, vir elkeen ‘n groot, simboliese tjek oorhandig het. ‘n Donasie van R5 000 elk is later in die onderskeie rekeninge inbetaal.
Drie van die Bethany House-kinders is tans Hoërskool Noordheuwel-leerders, en Charl het genoem dat hierdie donasie hulle baie gaan help met die bestuur van die huis, en om die kinders se lewens te verbeter.

