Kleuters samel items vir bejaardes in
Kleuterskoolleerders het saamgewerk om 'n sentrum vir bejaarde te help en so van jongs af van liefdadigheid te leer.
Liefdadigheid is so ‘n integrale deel van Krugersdorp se daaglikse bedrywighede dat ‘n groot aantal van die dorp se organisasies nie daarsonder kan funksioneer nie. Talle van hierdie organisasies help die gemeenskap op maniere wat mense nie altyd besef nie.
Môreglans Tehuis vir Bejaardes is so ‘n plek waar elke dag seker gemaak word dat hul inwoners goed versorg is, genoegsame etes ontvang en hul oudag gelukkig kan deurbring. Die ouetehuis se bestuur bestaan boonop grootliks uit vrywilligers uit die gemeenskap wat geen betaling vir hul dienste ontvang nie.
Zelna Vermooten is ‘n professionele verpleegster wat haar vaardighede gebruik vir die versorging van die bejaardes. “Ek dink dit is belangrik om ‘n groot netwerk te bou van mense vir wie jy om hulp kan vra. Dit is veral belangrik vir die onderhoud van die ouetehuis. My netwerk van mense het elkeen hul eie netwerk, en so help ons almal mekaar,” het Zelna gesê.
Raadslid Aletta van Loggerenberg en haar man het al voorheen by die sentrum gehelp, en so gehoor van ‘n paar goed wat die outehuis tans nodig het. Hulle het by Sonstraaltjie Opvoedkundige Sentrum, waar hul kinders skoolgaan, om hulp gevra. Die skool het ingestem dat hul leerders elkeen ‘n paar alledaagse produkte insamel en aan Môreglans oorhandig.
Die bejaardes was opgewonde om die bokse vol tee, koffie, suiker, melk, kookolie, warmsjokolade, grondboontjiebotter, konfyt en so meer van die kleintjies af te ontvang. “Dit gaan die sentrum baie help oor die volgende paar weke. Dit gaan nou reguit stoorkamer toe en sal streng beheer word,” het Zelna vertel.

