Krugersdorp in ‘n dwelmgreep – maar daar is hulp
André en Amanda du Toit vertel dat hulle daar is om nie net die gemeenskap te help om uit 'n dwelmgreep te ontsnap nie, maar ook om te keer dat ander gevang word.
Die verslawingsprobleem aan die Wes-Rand lê vir André en Amanda du Toit baie na aan die hart.
André het vertel dat hy self die pad as verslaafde moes loop en dat dit hom ‘n lang ruk geneem het om tot bekering te kom en later verlos te wees van sy verslawing.
“Ek was ‘n alkoholis en het tot op die ouderdom van 40 regtig hard gedrink,” het hy verduidelik.
Hy het sy hart vir die Here gegee, amper sy huis verloor, vir Amanda ontmoet en saam met God die pad na herstel gestap.
By die AGS Krugersdorp Sentraal-kampus het hulle die Substans Ondersteuningsgroep, of te wel SOS begin.
Daar is SOS-groepe in Witpoortjie en Krugersdorp, en hulle werk tans om nog twee groepe te kry; een in Krugersdorp-Wes en een in Randfontein. Dan wil hulle ook uitbrei na plekke soos Carletonville en Westonaria.
SOS is ‘n beradings- en ondersteuningsgroep vir dié wat graag uit hul dwelmhel wil ontsnap.
“Jy self moet bel, jy moet nie daar wees omdat jou familie jou gesond wil hê nie. Jy moet verantwoordelikheid vir jouself aanvaar,” het Amanda verduidelik.
André het gesê dat mense wat verslaaf is gewoonlik ‘n kruk soek vir die seer wat hulle met hul saamdra en dit is die seer waaraan SOS aandag gee.
“Verwerping en skuldgevoel is die twee grootste dinge wat lei tot ‘n verslawing.”
Op Maandae bied hulle die Celebrate Recovery-groep aan en van daar beweeg hulle na meer persoonlike berading.
Hulle help ook die families van die verslaafdes en leer hulle hoe om grense te stel vir die afhanklikes en hoe om na hulself ook te kyk.
Volgens Amanda is daar ‘n enorme dwelmprobleem in Krugersdorp en sy glo dat jong mense eerder ‘n kruk gaan soek as om hul probleme te konfronteer.
“Onkunde en die vrylik beskikbaarheid van dwelms in die dorp dra ook by tot die probleem,” het sy bygevoeg.
“Ek het destyds ‘n dwelmhandelaar geken. Hy was ‘n gawe mens en vir hom was dwelms en prostitusie net ‘n besigheid. Jy moet nie vir hom steel nie want dit is krimineel. Die handelaars sal tien teen een nog kerk toe gaan en hul tiende gee,” het André vertel.
Hy en Amanda voel dat daar steeds die idee is dat as mens die dwelmprobleem ignoreer en nie meer daaroor te wete kom nie, dit nie na jou voorstoep of naby jou kinders sal kom nie.
Maar, het Amanda vertel, in die SOS-beradingsopleiding is hulle geleer dat die teikengroep om in dwelms te begin handel maar net agt jaar oud is.
“Ek dink jy sien net ‘n stukkie van die probleem as jy na die mense op straat kyk,” het sy gesê.
Hulle het vertel dat die probleem selfs onder dominees, advokate, dokters en dies meer kan voorkom.
Indien jy hulp nodig het, of van iemand weet wat hulp nodig het, kontak gerus vir André by 081 727 8554 of Amanda 081 569 9833 of by sossentraal@gmail.com.

