Haweloos in Krugersdorp – hoe het hulle tot hier gekom?
Die News het by inwoners van 'n huis vir haweloses gaan uitvind hoe hulle daar beland het.
Wanneer jy met haweloses en bedelaars praat, het elkeen sy eie unieke storie oor hoe hy daar beland het.
Iets waaroor hulle almal wel saamstem is dat enigiemand in ‘n oogwink in dieselfde bootjie kan beland.
Dit is nie altyd net drank en dwelms wat mense op straat laat eindig nie, maar die ekonomie, verkeerde besluite en swak beplanning dra baie keer daartoe by.
Die News het onlangs ‘n draai by ‘n huis vir haweloses gaan maak om ‘n bietjie meer uit te vind oor die inwoners en hoe hulle daar uitgekom het.
Een van die inwoners van dié huis, Deon het vertel dat hy reeds twee jaar en ses maande in die huis gebly het. Hy het vertel dat hy en sy familie op ‘n plot in Tarlton gewoon het toe kriminele een aand ‘n kabel voor hul huis gesteel het. Dit het tot verskeie dinge aanleiding gegee. Hulle moes uit die huis trek omdat daar nie meer elektrisiteit was nie en vandale het die huis verniel terwyl hulle nie daar was nie. Hulle het nie geld gehad om die huis reg te maak nie en kon nie meer bekostig om by ander mense te bly nie. Hulle het mettertyd al hul geld verloor en toe op straat beland.

Fotos: Natasha Pretorius.
“Mens kry nie meer werk nie. Almal van ons soek werk maar mens kry net piece jobs,” het Deon vertel.
Lizette en Hendrik het reeds drie maande in die huis gebly, Hendrik het sy werk by ‘n mynkontrakteur verloor en ‘n ruk daarna het hulle en hul twee kinders hulself op straat bevind.
“Dit is moeilik om elke dag ons omstandighede te aanvaar. Mens vra nie hiervoor nie – dit kom soms net op jou pad,” het hulle verduidelik.
Ria en Dana is karwagte by ‘n plaaslike winkelsentrum en bly reeds ‘n jaar en agt maande in die huis. Hulle het albei hul werk verloor en Ria het vertel dat sy alles wat sy kon vir haar kinders gegee het om hulle te help, maar dat sy later nie meer na haarself kon omsien nie.
“Ons staan heeldag op ons voete en mense is soms vreeslik ongeskik. Party mense sien neer op my omdat ek ‘n karwag is maar hulle ken nie my omstandighede nie,” het Ria gesê.
Haar voorstel was dat indien iemand nie geld het om vir haar te gee nie, kan hulle net dankie sê en wegry. Sy neem hulle nie kwalik nie en sy verstaan wat dit beteken om nie geld te hê nie.
Bongi is ‘n 35-jarige ma van twee kinders wat reeds meer as twee maande in dié huis bly.
Sy kom uit ‘n verhouding waar sy jare lank mishandel is en het besluit om haar en haar kinders uit die situasie te verwyder. Dit het egter verseker dat sy op straat beland het.
Sy is tans besig om haar matriek te voltooi sodat sy ‘n beter lewe vir haar en haar kinders kan skep.
Sy het vertel dat die moeilikste deel van haar dag is om vir haar kinders te sorg aangesien sy nie nou werk het nie. Sy glo dat God se genade hulle tot by die huis gebring het en hulle nou ‘n dak oor hul koppe het.
Cyril bly nie in die huis vir haweloses nie. Hy, sy familie en vriende het ‘n informele skuiling ‘n entjie in die straat af gebou waar hulle almal bly.
Cyril is streng met dié wat daar bly en het hulle almal gevra om op te ruim in en om die skuiling.
Hy het vertel dat hy al op straat bly sedert hy 17 is en dat hy nou 50 is.
Hulle kry weekliks donasies van onder andere brood en sop, wat hy glo weer aan ander haweloses uitdeel as hulle kom vra.
Hy het vertel dat hy ‘n swemmer en ‘n atleet op skool was en dat hy en sy broer later op straat beland het. Volgens hom is dwelms ‘n baie groot probleem in die dorp en kinders het nie genoeg om hulself besig te hou nie.
Op die vraag of hy graag eendag van die straat af sal wil kom, het Cyril geantwoord,” Ek is hier vir die mense, ek sal my laaste gee vir iemand anders”.

