NewsSchools

Klub Nories Gholfdag samel fondse in vir ‘n goeie doel

Die ywerige gholfspelers het die uitmuntende weer met min wind geniet. Daar is genoeg fondse ingesamel om talle leerders te help om hul doelwitte te bereik.

Groot gholfdae ontstaan dikwels omdat daar ‘n behoefte is. Dit is ‘n goeie manier om mense uit hul kantore en in die natuur te kry waar hulle hul daaglikse frustrasies op ‘n klein wit balletjies kan uithaal.

Maar, in die meeste gevalle vul ‘n gholfdag die een of ander tekort in die gemeenskap aan.

Die Klub Nories Ondersteuningsklub-groep het ontstaan toe Hoërskool Noordheuwel-ouers ‘n tekort aan fondse vir sekere skool- en buitemuurse aktiwiteite geïdentifiseer het. Sommige leerders het die talent en dryfkrag om te presteer, maar kan nie altyd die fondse bymekaar kry wat nodig is om aan die aktiwiteite deel te neem nie.

Oud-Nories en klublede Tiaan van Zyl, Lee-Anne Balt, Karen Balt en Lynette Fuls by die gholfdag. Foto: Jaco Human.

In plaas daarvan om kort-kort bakhand te staan vir skenkings, het die groep besluit om ‘n soliede ondersteuningsnetwerk te vorm om te verseker dat daar altyd fondse beskikbaar is vir diegene wat dit sou nodig kry.

Die klub se gholfdag is een van hul vele fondsinsamelings.

“Ons voel dit is belangrik dat die ouers en ondersteuners van Hoërskool Noordheuwel ‘n geleentheid kry om bymekaar te kom en iets terug te gee vir die gemeenskap,” het ouer, klublid en organiseerder Jan Balt gesê.

Devin Lamprecht is ernstig oor die gholfdag. Foto: Jaco Human.

“Ons het die dag fondse ingesamel om onder meer kinders te help met toere, klere en rugbystewels. Dit is vir dié wat wil deel wees maar dit nie altyd kan bekostig nie.”

Die ywerige gholfspelers het die uitmuntende weer met min wind geniet. Dit het geblyk dat al die spelers op die gholfbaan ten minste al ‘n paar keer tevore gespeel het en ‘n klompie spelers het gereeld hul weg na die skoonveld gevind en goeie tellings behaal. Daar was min aksie in die vele sandkuile.

Tiaan van Zyl is gelukkig met sy afslaan. Foto: Jaco Human.

Die gholfdag was beslis ‘n sukses, en die klub kon heelwat geld insamel om hul kinders te help.

Hulle beplan ook nog talle ander insamelingsgeleenthede en hoop om soveel moontlik mense te help om hul drome waar te maak en hul doelwitte te bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button