Hoërskool Noordheuwel se matriekgroep was deurgaans tydens die landswye inperking aan die gang met skoolwerk ter voorbereiding van die rekord- en eindeksamen. Die Graad 12-kunsleerders was ook nie ledig nie.
Dié groep leerders het hard gewerk aan hul kunsportefeuljes wat bestaan uit vyf A4- en twee A3-grootte sketse. Om te pas by die omstandighede is hierdie jaar se tema verander na ‘inperking’.
Die kunswerke moes uitbeeld hoe die betrokke leerder die nuwe lewensomstandighede ervaar.

Onder normale omstandighede sou die hele skool se kunsleerders die geleentheid kry om hul werke tydens ‘n kultuuraand ten toon te stel, wat ongelukkig nie vanjaar sal kan plaasvind nie.
‘n Paar van die topkeuses sal egter in die Noordheuwel-voorportaal aan besoekers vertoon word. In die kunswêreld simboliseer die gebruik van ryk blou ‘n kalm gevoel.
In Chanel Buys se skildery van ‘n duiker in ‘n blou duikpak in die dieptes van die blou oseaan word haar verlange na die vryheid wat diepseeduik haar bied sterk uitgebeeld. Sy wens só die grendeltyd om sodat sy weer met haar snorkel en paddavoete die dieptes kan invaar.

Benita Steenberg se plaashekskildery beeld haar en haar haar familielede uit waar hulle uitreik oor die grense van hul plaas na die buitewêreld, wetend dat hul smagting geblus moet bly solank as wat die pandemie in Suid-Afrika is.
Benita en haar gesin moes in Maart hul toevlug tot die plaas neem om te verseker dat haar pa glad nie in kontak met die virus kom nie.

Angelica Steenkamp ontsnap uit die inperking deur in haar storieboeke. Haar besige gedagtes dryf haar daagliks tuin toe waar sy in die rustigheid van die natuur in ander wêrelde kan verdwyn.
Haar skildery beeld hierdie ontsnapping uit waar sy met vlegsels in haar hare en ‘n nuwe boek in haar hande sit terwyl die natuur in die agtergrond met gedempte kleure uitgebeeld word, asof die wêreld in die niet verdwyn.

Cara van Quickelberger is geïnspireer deur die Spaanse kunstenaar Salvador Dali se The Persistence of Memory wat hy in 1931 voltooi het. In haar surrealistiese verfstuk is ‘n massiewe muurhorlosie, groter as die berg waarteen dit rus, staties in ‘n onstuimige meer vasgevang.
Dit skep ‘n gevoel van tyd wat stilstaan, en laat vrae ontstaan soos hoe lank staan die horlosie nou al stil, en wanneer sal die sekondewyser weer oorslaan? Vir Cara is dit asof elke dag dieselfde is as die vorige, en sy wonder of die inperkingstyd ooit sal verbygaan.
