Almal geniet dit om bederf te word – soveel meer wanneer jy by die werk is. Om en by 70 personeellede van die Curamus Skool in Rant-en-Dal was onlangs so gelukkig.
Die span van Turn to Eternal Life (Ttel) Bybelbediening het op Woensdag, 30 September 20 skinkborde met soet- en southappies na die skool toe geneem om vir die onderwysers dankie te sê vir hul harde werk.

Curamus is ‘n skool vir kinders met outisme en Down-sindroom, en Edward van Schalkwyk van Ttel het verduidelik dat hulle dit gedoen het om vir die onderwysers te wys dat hulle waardeer word.
Ttel is ‘n bediening wat veral fokus op en mense help wat vasgevang is in dwelmverslawing, prostitusie en die okkulte. Die bediening is in 2008 gestig maar is eers in 2013 as ‘n niewinsgewende organisasie geregistreer.

In die afgelope jaar het hierdie organisasie vyf meisies gehelp om van die straat af te kom en hul lewe op die regte pad te kry.
Edward het vertel dat onderwysers help om die grondslag te lê van ‘n jong mens se lewe, en dus die eerste interaksie is wat baie kinders kry om hulle te leer onderskei tussen reg en verkeerd.

Daarom is dit so belangrik om onderwysers te ondersteun en te bedank vir hul harde werk en opoffering.
Nadat daar vir almal gebid is, kon die onderwysers, assistente, spraak- en arbeidsterapeute, verpleegster en die algemene werkers almal smul aan die lekker happies wat vir hulle gebring is.
