Lorraine Snyman het waarlik ‘n passie om gelukkige kinders met hoë standaarde te kweek. Sy is reeds 30 jaar in die onderwys en het op 1 Augustus as Laerskool Protearif se nuwe adjunkhoof diens aanvaar.
Vir die afgelope 15 jaar is sy reeds deel van die Protie-familie nadat sy 15 jaar skoolgegee het by Laer Gedenkskool Danie Theron in Carletonville.
Sy het vertel dat sy ‘n passie vir kinders, skoolhou en haar gemeenskap het en dat dit die rede kan wees hoekom sy besluit het om ‘n onderwyser te word.
As jou gemeenskap se standaarde hoog is, is die kinders wat jy uitstuur se standaarde ook hoog,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat sy in haar nuwe pos wil verseker dat elke kind se volle potensiaal ontgin word en dat hulle weet dat hulle enige iets kan bereik. Vir haar is dit lekker wanneer sy terugvoer van ‘n hoërskool ontvang dat hul nuwe Graad 8’s, wat van Protearif af kom, se standaarde baie hoog is.
“Ons het uitstekende personeel,” het sy gesê terwyl sy verduidelik dat sy uitsien om saam met haar kollegas Protearif een van die beste skole te maak.
Behalwe vir haar pligte as adjunkhoof gaan Lorraine steeds Engels gee vir die Graad 7’s. Sy voel dat dit in vandag se samelewing van kardinale belang is dat ouers en onderwysers moet hande vat om gelukkige kinders te verseker.
