Na ‘n vreeslike lang en besige jaar het die matrieks van Hoërskool Monument hul skoolloopbaan op ‘n unieke, spesiale manier afgesluit.
Op Dinsdag, 3 November, het hulle saam met hul hoofleiers ‘n tydkapsule oopgemaak, ‘n nuwe een gepak vir die matrieks van 2024, die klok gelui en vir die laaste keer deur die hekkie geloop as Monumentare. Hulle het ook ‘n laaste oomblik saam met juffrou Estie Pienaar spandeer wat nou aftree.
Hierdie jaar se hoofseun, Rynard Mouton en hoofdogter, Kayla Kruger het die tydkapsule oopgemaak wat vir hulle matriekgroep deur die 2016-matriekgroep agtergelaat is.

Die tydkapsule het onder andere ‘n interhoër-seunsgeesstok, o.16 Genesis-rugbytrui, ‘n revuesambreel, ‘n groentjiekonsertprogram, foto’s van die matrieks, netbal-, rugby- en krieketklere, en ‘n brief van een van die 2016-matrieks bevat.
Nadat alles uit die kapsule gehaal is en vir die groep gewys is, het Rynard en Kayla begin om weer die tydkapsule vol te pak vir die 2024-matrieks.
Die volgende matrieks kan uitsien na revueherinneringe en iets wat die jaar 2020 uitbeeld, asook iets van elke gebeurtenis wat dié jaar by die skool gekenmerk het. Die tydkapsule het ook items in wat na 2020 nie meer op die rakke sal wees nie, en so ‘n ietsie spesiaal vir Monnas se 100-jaarvieringe.

Monnas-hoof, Johann Calitz, het vir die leerders gesê dat dit vir hom ‘n trotse maar hartseerdag was.
“2020 is ‘n jaar wat uitstaan as ‘n jaar waarin Monumentare gewys het hulle laat hulle nie terughou nie,” het hy trots gesê.
Hy het vir die matrieks gesê dat hulle die voorreg om te leer nooit moet verwaarloos nie en dat niemand dit wat hulle in hul skoolloopbane geleer het, van hulle kan wegvat nie.
Rynard het ‘n Witstinkhoutboom aan die skool geskenk, waarvoor Johann gesê het hulle beslis die regte plek in die skool sal kry.

Foto’s: Natasha Pretorius.
Daarna het Rynard en Kayla die klok vyf keer gaan lui. Die klok word op spesiale geleenthede by die skool gelui en hierdie keer was dit vir die laaste keer vir hierdie jaar se matrieks. Die groep het opgestaan en die Skoollied gesing voordat elke leerder vir die laaste keer deur die hekkie kon stap.
In Graad 8 stap die leerders van buite af binnetoe deur die hekkie om hulle deel te maak van die Monnas-familie, en in matriek stap hulle weer van binne af na buitetoe om die finale deel van hul pad aan te dui. Hierdie hekkiestaptradisie is reeds sedert 1988 in gebruik.
Dit was nie net die matrieks se laaste funksie by die skool nie, maar ook dié van juffrou Estie Pienaar wat al van 1956 verbonde is aan Hoërskool Monument.
